Mbeki Gooi Verslag oor Wapensaak Terug |
Publication | Die Burger |
Date | 2001-10-17 |
Reporter | Erika Gibson |
Web Link | www.news24.co.za |
Pretoria. - Die ondersoek na die R66 miljard se wapentransaksie het die afgelope week die soveelste keer deur stormwaters gevaar toe pres. Thabo Mbeki en die vier betrokke ministers die voorlopige verslag oor die forensiese ondersoek teruggegooi het.
Die verslag van sowat 800 bladsye word inderhaas oorgeskryf voordat dit as deel van die omvattende verslag later vandeesweek gedruk word vir voorlegging aan die Parlement einde vandeesmaand.
Die forensiese ondersoek is in opdrag van die ouditeur-generaal (OG) deur private ouditeurs gedoen. Die openbare beskermer (OB) het terselfdertyd sy oorkoepelende ondersoek gedoen, terwyl die nasionale vervolgingsgesag die strafregtelike ondersoek behartig het.
Die voorlopige verslae is vandeesweek aan mnre. Trevor Manuel, minister van finansies, Alec Erwin, minister van handel en nywerheid, Mosiuoa Lekota, minister van verdediging, en Jeff Radebe, minister van openbare ondernemings, sowel as Mbeki gegee.
Na verneem word, was die vyf tevrede met die verslae van die vervolgingsgesag en die OB, maar niéé met die OG s'n nie.
Die OG, mnr. Shauket Fakie, het by monde van 'n woordvoerder gesêê sy span volg die "voorgeskrewe proses" in die mandaat van die ondersoek. "Al die moontlike word gedoen om die sperdatum te haal." Hy wou nie op die jongste probleme kommentaar lewer nie.
Die span werk glo die afgelope paar dae onverpoos en deur die nag met die hulp van adv. Stoffel Fourie, hoofondersoeker van die OB, om die verslag oor te skryf. Fourie het ook die OB se verslag opgestel.
Die probleem is blykbaar dat die forensiese ondersoekers deels gemeen het dat sekere persone skuldig is en dat bewyse gevind moes word.
Die terugvoering van die ministers en Mbeki was glo dat 'n omvattende ondersoek na alle aspekte van die transaksies versoek is en dat díít is wat hulle in die finale verslag wil sien.
Van die ondersoekers het gister gesêê hulle twyfel of die verslag "reggeskryf" kan word as dit nie reg benader is nie. Hulle is ook bekommerd dat druk deur ministers op die ondersoekers toegepas word om glo 'n verslag met eenderse slotsom in te lewer.
Die forensiese ondersoekers meen hulle het net 'n opsomming van hul ondersoek ingedien en dat die beweerde onreëëlmatighede in die volledige verslag bespreek word.
Die forensiese ondersoek is teen 'n begroting van sowat R6 miljoen uitgekontrakteer, terwyl die totale ondersoek se begroting sowat R13 miljoen beloop.
With acknowledgment to Erika Gibson, Die Burger and News24.