Reuk van Korrupsie |
Publication | Die Burger |
Date | 2001-06-25 |
Reporter | Bonile Ngqiyaza and Sapa |
Web Link | www.news24.co.za |
DIE
nuutste onthulling rakende die wapentransaksies van die regering bevestig maar
net weer wat almal wat objektief-krities na die saak kyk lankal weet: hier broei
'n skandaal.
Aanvanklik was dit net Tony Yengeni, hoofsweep
van die ANC, se duur viertrek-Mercedes wat onder die loep gekom het. Daarna het
'n filiaalmaatskappy van DaimlerChrysler, die European Aeronautic Defence and
Space Company (EADS), erken dat hy aan sowat dertig mense, onder wie LP's,
"bystand" verleen het om voertuie te bekom.
Daardie lys is nog nie bekend gemaak nie, maar
nou het aan die lig gekom dat een van die mense wat bevoordeel is, die hoof van
die weermag, genl. Siphiwe Nyanda, was. Ander mense wie se name ook pas bekend
geword het, is mnre. Llew Swan, gewese hoof van Krygkor, en Mavan Pillay, wat
tot onlangs 'n direkteur van die departement van handel en nywerheid se
teenhandelafdeling was.
Al drie dié mense was in een of ander
hoedanigheid by die onderhandelings oor die wapentransaksie van tussen R40 en
R50 miljard betrokke. Wat Yengeni betref: hy was voorsitter van die Parlement se
gesamentlike komitee oor verdediging toe hy sy Mercedes verkry het. Hy wás dus
in 'n invloedryke posisie en kon sake beïnvloed.
Die ondersoek na die wapentranksie sal moet
aantoon watter rol Yengeni en ander gespeel het. Wat reeds vasstaan, is dat EADS
'n groot hap van die wapentransaksie gekry het.
Dié maatskappy het dus rede gehad om geskenke
uit te deel. Sy aandeel in die saak sal deeglik deur die ondersoekspan bekyk
moet word.
Tot dusver het gebeur wat baie ontleders gevrees
het: die openbare sittings om die wapentransaksies te ondersoek, maak dit vir
politici en ander rolspelers moontlik om skadebeheer uit te oefen sonder dat
kernvrae beantwoord word.
Dit verg egter geen
besondere insig om uit te pluis dat 'n patroon van moontlike onreëlmatighede na
vore gekom het nie. Pogings om nou nog toe te smeer, sal net die reuk van
korrupsie erger maak.
With
acknowledgement to Die Burger and News 24.