Wapenfirma Dagvaar om Inligting te kry |
Publication | Rapport |
Date | 2002-03-03 |
Reporter | Andries Cornelissen |
‘n Maatskappy wat meen hy is benadeel in die wapentransaksie, het die ouditeur-generaal (OG), die openbare beskermer (OB), die nasionale direkteur van openbare vervolgings en die departement van verdediging gedagvaar om toegang tot inligting oor die transaksie te kry.
Dr Richard Young, besturende direkteur van C²I², dagvaar dié instellings ingevolge die Wet op Toegang tot Inligting. Dit sal die eerste keer wees dat dié wet in die hof getoets word.
Young het aan Rapport gesê die instellings is sowat twee weke gelede gedagvaar en het reeds aangedui dat hulle sy aansoek gaan teëstaan.
Young se maatskappy het ‘n kontrak van miljoene rande in die wapentransaksie verloor nadat ‘n risikobedrag by sy tender getel is, hoewel die maatskappy aanvanklik as voorkeurtenderaar gekies is.
Young het mnr. Shauket Fakie, OG, daarvan beskuldig dat hy iemand in die kabinet beskerm deur nie die konsepverslae beskikbaar te stel nie.
Hy sê die OB het hom laat weet hy het sy aansoekvorm om toegang tot die inligting verkeerd ingevul. Die OB hou ook nie daarvan dat hy met regstappe gedreig het om die inligting te kry nie.
Fakie het in ‘n brief aan Young se maatskappy gesê die onderneming vra te veel dokumente. Die OG se kantoor het glo nie die hulpbronne om alles beskikbaar te stel nie.
Die dokumente is ook vertroulik en bevat onder meer sensitiewe inligting oor die land se verdedigingsbehoeftes.
Young het met reuse-eise teen die staat gedreig oor sy verlies weens die tenderprosedure in die transaksie.
Young wou ook van Krygkor, ADS en die Fregat-konsortium inligting hê.
Volgens Young het Krygkor om negentig dae uitstel gevra. ADS het ‘n "ongeskikte" prokureursbrief aan hom gestuur waarin ADS sê hy is ‘n private maatskappy en die inligtingswet is nie op hom van toepassing nie.
Young sê die Duitse Fregat-konsortium het laat weet hy is geskep ingevolge Duitse wetgewing en daarom is dié Suid-Afrikaanse wet nie op hom van toepassing nie.
Volgens Young is die snert, want die konsortium het al die laaste paar jaar kantore in Suid-Afrika.
Met erkenning aan Andries Cornelissen en Rapport.
Ons verwys ook na 'n opvolg skrywe deur
Bertus Cilliers, Bestuurder: Korporatiewe Kommunikasie, Krygkor
Rapport, 10 Maart 2002 :
Krygkor
gee Aandag aan dié Versoek