Publication: Die Burger Issued: Date: 2001-01-16 Reporter: Erika Gibson Editor:

Besluit Knel Wapenondersoek - Woods

 

Publication  Die Burger
Reporter Erika Gibson
Date 2001-01-16

 

JOHANNESBURG. Die ondersoek na die land se omstrede wapenkontrak van R43 miljard sal gekortwiek word indien pres. Thabo Mbeki die aanbeveling aanvaar om nie die Heath-eenheid aan die ondersoek te laat deelneem nie, het die voorsitter van die parlementêre waghond oor die Regering se geldsake gister gesê.

Dr. Gavin Woods, voorsitter van die staande komitee oor openbare rekenings, het gereageer nadat dr. Penuell Maduna, Minister van Justisie, vroeër die dag op 'n mediakonferensie in Pretoria sy aanbeveling aan Mbeki bekend gemaak het.

Maduna het gesê hy sal die aanbeveling ``met 'n groot glimlag'' in die hof verdedig. Hy het voorts gesê Mbeki het versoek dat hy die volledige brief met sy aanbeveling aan die media beskikbaar stel.

Dit word vertolk as 'n sterk aanduiding dat die President nie teen Maduna se wil sal besluit nie.

Volgens die Presidensie sal Mbeki ``binne die volgende paar dae'' sy besluit bekend maak.

Heindrich Wyngaard berig Woods het by navraag gesê: ``Ek kan nie sê dat ek verras is deur die minister se aankondiging nie, want ek dink daar was vooraf genoeg aanduidings uit verskeie regeringskringe oor wat die aanbeveling aan die President sou wees.''

Die staande komitee is effens bekommerd oor die verloop van die ondersoek. Dit is omdat die regsadvies wat vooraf deur die komitee ingewin is, ``duidelik uiteensit waarom dit nodig is dat regter Heath se eenheid ook betrek word.

``Nou is daar 'n gaping. Ons sal op ons volgende vergadering moet besluit hoe om te sorg dat 'n deurtastende ondersoek steeds gedoen word,'' het Woods gesê.

Heath is oorsee en sal eers teen Donderdag op die minister se aanbeveling reageer.

Me. Patricia de Lille, die PAC-LP wat vroeër gedreig het om 'n hofbevel te verkry om Heath in te sluit, het Mbeki gister versoek om Maduna se aanbeveling te verwerp.

Sy het gesê die PAC wag op Mbeki se besluit voordat die party met regstappe sal begin.

Maduna het op sy mediakonferensie gesê alle mense is vervangbaar. Dit is dus onverantwoordelik om te sê die wapenondersoek sal sonder Heath skipbreuk ly. ``Deur te sê Heath is die beste toegerus vir die ondersoek, is om te sê die ander ondersoekeenhede is onbevoeg. Die ondersoek is té belangrik vir een mens.''

Volgens Maduna was daar sedert Heath se aansoek om 'n proklamasie vir die ondersoek geen versoek van die Parlement of die Nasionale Vergadering dat Mbeki dit behoort te oorweeg nie. ``Dit sal dus kwaadwillig wees van enigiemand om daarop te sinspeel dat die President teen die wil van die Parlement optree (as hy die proklamasie sou weier).

`` 'n Gesamentlike ondersoek (na die wapentransaksies) is reeds deur die Openbare Beskermer, die Ouditeur-generaal en die nasionale vervolgingsgesag onderneem. Dit is in die openbare belang dat dié ondersoek ongehinderd voortgaan.''

Volgens Maduna het sy departement geen inligting of dokumentasie ontvang wat bewyse bevat het van onreëlmatighede nie.

``Ek het ook nie die De Lille-dossier ontvang met die inligting oor aantygings wat aan Heath gegee is nie. Dat dié kritieke inligting nie bekend gemaak is nie, het my taak (om Mbeki te adviseer) geensins makliker gemaak nie.''

Volgens Maduna meen adv. Selby Baqwa, die OB, dat geen bewyse nog bestaan wat dui op die verkwisting van staatsgeld met die wapenkontrakte nie.

Die bestaande vervolgingstrukture is dus voldoende om die bewerings te ondersoek.

``Die Heath-eenheid werk tans met sowat 200 000 ondersoeke spruitend uit meer as 60 proklamasies. Dit sou absurd en onlogies wees om die oorlaaide eenheid met nóg ondersoeke te belas, aangesien regter Heath oor minder as 'n jaar die eenheid se bevel aan 'n opvolger moet oordra.''

Met erkenning aan Erika Gibson en Die Burger.