Publication: Die Burger Issued: Date: 2001-08-28 Reporter: Erika Gibson Editor:

Plaaslike Stelsel Nie Gekies oor Voortrekkery Young

 

Publication  Die Burger
Reporter Erika Gibson
Date 2001-08-28

 

PRETORIA. Die plaaslik ontwikkelde bestuursinligtingstelsel vir die vloot se nuwe korvette het ``in alle opsigte'' die toets geslaag om dié kontrak te kry, maar dis weens beweerde bevoordeling aan African Defence Systems (ADS) toegeken.

Dr. Richard Young van CCII, Kaapse ontwikkelaar van dié stelsel, het gister in die openbare verhoor na die wapentransaksies van R43 miljard getuig hy het sedert die vroeë jare negentig saam met die vloot gewerk aan die ontwikkeling van die beplande korvette se gevegsuite.

Young het getuig ná sowat twee uur se regsargumente oor dokumente en dreigemente, wat voor die verhoor uitgeruil is.

Adv. Selby Baqwa, voorsitter van die verhoorpaneel, het aan die regsverteenwoordigers van ADS en Young gesê om hul geskille by te lê, omdat hulle die verrigtings vertraag.

Die meeste van Young se getuienis was oor of sy stelsel in 'n ontwikkelingfase was, en of dit as 'n volwaardige produk beskou kon word.

Volgens hom het hy jare lank gehelp met die ontwikkeling van die gevegsuite, waaronder die bestuursinligting- en verskeie ander stelsels. In dié tyd het Krygkor al die ontwikkelaars verseker dat hulle in aanmerking sou kom vir die onderskeie kontrakte wanneer die korvette 'n werklikheid word.

Young het uit verskeie geskrewe verslae en mondelinge ooreenkomste met die vloot en Krygkor se projekspanne aangehaal. Hierin is hy verseker dat sy stelsel deel is van die vloot se amptelike vereistes en sy tenderbasis.

Hy het ook aangevoer dat ADS, wat die kontrak vir die vervaardiging van die gevegsuite gekry het, dit strydig met die tendervereistes gekry het. Kragtens dié vereistes moet die stelsels in Suid-Afrika ontwikkel word.

ADS is in die onderhandelingsproses grootliks deur Thomson-CSF van Frankryk oorgeneem.

Toe dié verwikkeling dit laat blyk het dat plaaslike ontwikkeling nie meer 'n vereiste was nie, is Young deur BAeSEMA, 'n Britse vervaardiger, CelsiusTech van Swede en STN Atlas van Duitsland Young genader om met sy stelsel teen ADS om die gevegsuite-kontrak mee te ding.

Volgens Young het BAeSEMA, 'n afdeling van British Aerospace, dit laat vaar, omdat hulle bang was dit stel hul kontrak vir die verskaffing van Hawk-vegopleidingsvliegtuie in gevaar.

Met erkenning aan Erika Gibson en Die Burger.