Publication: Die Burger Issued: Date: 2001-01-09 Reporter: Editor:

Wapensaak van Miljoene teen Regering vir Eers Laat Vaar

 

Publication  Die Burger
Date 2001-01-09

 

JOHANNESBURG. 'n Verdedigingsmaatskappy van Kaapstad gaan sy planne om 'n saak teen die Regering aanhangig te maak eers laat vaar totdat pres. Thabo Mbeki besluit het oor die betrokkenheid van die Heath-ondersoekeenheid by die ondersoek na die wapentransaksie van R43 miljoen.

Mnr. Richard Young, besturende direkteur van CCII Systems, is deur adv. Selby Baqwa, die Openbare Beskermer (OB), aangeraai om die saak hof toe te neem.

Sy maatskappy is aanvanklik deur die Suid-Afrikaanse Vloot ge¨dentifiseer as die voorkeurverskaffer van vier nuwe Duitse korvette.

Young beweer die kontrak is toegeken aan 'n ander maatskappy wat bande het met voormalige amptenare van die Departement van Verdediging.

Hy het die inligting ook aan Heath en die ouditeur-generaal oorgedra wat in 'n spesiale verslag aan die Parlement verlede jaar voorgestel het dat sy beswaar as deel van 'n afsonderlike forensiese ouditondersoek behandel moet word.

Young het ook met dr. Gavin Woods, voorsitter van die Parlement se waghondkomitee oor openbare rekeninge, gepraat wat in November aanbeveel het dat 'n ondersoek gedoen word na die verskaffingsprogram.

Young beplan om skadevergoeding te eis van tussen R100 miljoen en R200 miljoen, maar sal net 'n hofsaak begin indien Heath van die ondersoek uitgesluit is, het hy gister aan Sapa gesê.

Die kantoor van die President het Vrydag gesê hy wag op aanbevelings van die Minister van Justisie, dr. Pennuell Maduna.

Maduna sal vandeesweek die saak oorweeg.

Met erkenning aan Die Burger.