Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-05-01 Reporter: Carel van Dyk

Slagskepe Speel Kat en Muis by Kaap

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-05-01

Reporter

Carel van Dyk

Kaapstad - Terwyl Kapenaars verlede week rustig geslaap het, was vier oorlogskepe in 'n kat-en-muisspel tussen Kaappunt en Saldanha gewikkel.

Met dié oorlogspel het lede van die media die verdedigers van Suid-Afrika se gebiedswaters van nader leer ken. Die Suid-Afrikaanse Vloot het Donderdag die media by SAS Saldanha, sy opleidingsbasis aan die Weskus, ontvang waar hulle gewys is hoe die rekrute vir 'n lewe ter see gebrei word.

Die opleiding vorm deel van 'n nuwe strategie, genaamd militêre vaardigheidsontwikkeling (MVO). Met MVO word die opleiding van rekrute só aangepas dat die kwalifikasies wat behaal word, ook in die burgerlike lewe erken sal word.

Die media is op die aanvalsvaartuie uitgeplaas om `` 'n nag aan boord te beleef''. Volgens kapt. Robert Higgs, vlootwoordvoerder, was dit die eerste keer dat die media as 'n groep saam met die aanvalsvaartuie gevaar het.

Die SAS Adam Kok, SAS Isaac Dyoba, SAS Galashewe en SAS Makhanda het vroegaand gereed gemaak om 'n ``teiken'' buite Saldanha aan te val.

Dié skietoefening is egter gou gestaak omdat die radarstelsel van die Kaapse lughawe probleme gegee het en nie kon aandui of daar lugverkeer in die oefengebied was nie.

Aangesien die skepe hul volle bemanning aan boord gehad het, moes die media op matrasse onder die ratwerk van die agterste kanon in die ammunisiekamer slaap.

Aandete aan boord was ietwat teleurstellend halfgaar vleis op skerp gegeurde rys.

Net ná middernag is almal op die skip wakker gemaak met die boodskap dat 'n missielaanval uitgevoer gaan word. Die ``Slag van Slangkop'' is by Kommetjie beslis.

Volgens kdr. Marius Venter, bevelvoerder van die SAS Makhanda, oefen die skepe gereeld teen mekaar om die bemanningslede se vaardighede te slyp.

Venter, wat al 15 jaar in die vloot is, het bygevoeg dat die vloot se aanvalsvaartuie die vinnigste in die Suidelike Halfrond is.

Dié vaartuie sal tussen 2008 en 2010 uitgefaseer word.

Die nuwe korvette sal dan dié skepe se funksie oorneem.

Met erkenning aan Carel van Dyk en Die Burger.