Skerpioene Kyk Weer na Vermaak se Sake by Krygkor |
Publication | Rapport |
Date | 2003-04-20 |
Reporter |
Paul Kirk |
Die Skerpioene het met 'n nuwe ondersoek begin na die bedrywighede van mnr. Marius "Vermaak", voormalige voorraad-verkoopsbestuurder van Krygkor.
Vermaak sou vier jaar gelede vervolg geword het op aanklagte van bedrog, diefstal en die onwettige verkoop van oorlogwapens aan Jemen in ruil vir omkoopgeld van R2,4 miljoen, maar hy het oënskynlik skotvry gebly.
Vermaak, wat agterna stilletjies uit sy pos bedank het, is ook nooit aangekla weens sy rol in 'n transaksie met Roemenië waarin 'n gunsloon van R12,6 miljoen ter sprake was nie.
Vermaak was glo die meesterbrein in die transaksie waarin tweedehandse weermaghelikopters teen opgeblase en bedrieglike pryse verkoop is.
'n Senior Roemeense diplomaat in Pretoria, Benone Ghinea, het in sy vaderland twee jaar tronkstraf gekry omdat hy omkoopgeld van Vermaak se departement in Krygkor ontvang het.
Die aanklaer in die Roemeense hooggeregshof, mnr. Dan Apostol, het Suid-Afrika tydens sy ondersoek besoek om getuienis met plaaslike owerhede te deel, maar niemand is ooit aangekla nie.
Die woordvoerder van die Skerpioene, mnr. Sipho Ngwema, het bevestig dat Vermaak een van drie mense is wie se bedrywighede ondersoek is in 'n hoogs vertroulike ondersoek van die ondersoekdirektoraat vir ernstige ekonomiese misdrywe (Odeem).
Die oorspronklike ondersoekbeamptes het intussen Odeem se diens verlaat, maar 'n senior Skerpioene-ondersoekbeampte lees nou weer die dokumente om vas te stel hoekom niemand destyds vervolg is nie. Volgens Ngwema verwag hy 'n verslag kort ná die Paasnaweek.
Hy wou hom egter nie uitlaat oor die moontlike heropening van die saak nie.
Luidens inligting tot Rapport se beskikking is Ghinea in 1993 deur die Roemeense regering se vliegtuigmaatskappy, IAR Brasov, gevra om as tussenganger op te tree in die aankoop van tussen twaalf en sewentien tweedehandse Puma-helikopters van Krygkor.
Die helikopters sou deur Denel opgeknap word voordat dit aan Roemenië gelewer word.
Ghinea het in die Roemeense hooggeregshof beken dat hy met Vermaak 'n ooreenkoms aangegaan het dat die faktuur 'n hoër koopprys as wat Krygkor wou hL, sou aandui.
Die verskil, minus sy deel, is na bewering deur Vermaak in Ghinea en sy vrou Ana se name in 'n Switserse bankrekening gedeponeer.
Vermaak was toe reeds die onderwerp van 'n ondersoek oor sy rol in 'n AK 47-transaksie met Jemen, 'n land aan wie Suid-Afrika nie wettig wapens kon verkoop nie.
Daar word beweer Vermaak het omkoopgeld van sowat R2,4 miljoen ontvang.
Die Jemen-wapenskandaal is deur Rapport oopgevlek en het gelei tot die Cameron-kommissie van ondersoek en 'n interne oudit van Krygkor se voorraad.
Regter Edwin Cameron het aanbeveel dat ondersoek ingestel word of Vermaak strafregtelik weens bedrog en diefstal aangekla kan word.
Hy het nie Vermaak se ontslag aanbeveel nie, waarskynlik omdat hy toe reeds bedank het.
With acknowledgement to Paul Kirk and Rapport.