Vyf Maande, en Níks van OG oor Wapens |
Publication | Rapport |
Date | 2003-04-20 |
Reporter |
Pieter Malan |
Web Link |
Vyf maande nadat die Pretoriase hooggeregshof die ouditeur-generaal (OG) beveel het om dokumente oor die omstrede wapentransaksie openbaar te maak, is daar nog nie 'n enkele dokument aan dr. Richard Young, die man wat die destydse hofstryd gewen het, oorhandig nie.
Young het die afgelope week gesê mnr. Shauket Fakie, die OG, het nog nie eens geantwoord op voorstelle wat hy (Young) onlangs gedoen het oor 'n geskikte tyd om die dokumente, wat etlike honderdduisende bladsye beslaan, aan hom te oorhandig nie.
"Tot dusver het ons nog nie 'n enkele dokument van die OG ontvang nie.
"Ek is oortuig dat hy so lank moontlik sloer (met die oorhandiging van die dokumente) om dit vir ons so moeilik en ongerieflik moontlik te maak."
Young, direkteur van CCII Systems, 'n elektroniese ingenieursmaatskappy wat getender het vir die elektroniese krygbeheerstelsels vir die vloot se nuwe korvette, se stryd om die dokumente onder oë te kry het verlede jaar begin ná die OG se ondersoek na beweerde korrupsie in die wapentransaksie.
Ná die OG se verslag, wat die regering van blaam in die toekenning van die kontrakte onthef het, het Young ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting 'n aansoek by die hof ingedien om die OG te dwing om alle dokumente rakende die ondersoek aan hom te oorhandig omdat hy beoog om die toekenning van die kontrakte te beveg.
Regter Willie Hartzenberg het in November verlede jaar die OG veertig hofdae tyd gegee om die dokumente aan Young te oorhandig, maar Fakie het aangedui dat hy om verlof tot appèl aansoek gaan doen.
Verlede maand, 'n dag voordat dié aansoek voor die hof sou dien, het die OG sy aansoek teruggetrek.
Young het toe voorgestel dat Fakie die dokumente oor 'n tydperk van agt weke aan hom beskikbaar stel.
Young sê die voorstel was daarop gemik om Fakie geleentheid te gee om die dokumente wat die minste sensitief is eerste te oorhandig en hom tyd te gee om die ander dokumente eers deur te werk om baie sensitiewe inligting te skrap voordat dit openbaar gemaak word.
Young beweer Fakie het nog glad nie op dié voorstelle gereageer nie.
Fakie het die afgelope week aan Rapport gesê hy was "uit die veld geslaan" toe hy Young se voorstelle "uit die bloute" ontvang het omdat daar reeds 'n geskrewe ooreenkoms rakende die oorhandiging van dokumente gesluit is voordat hy sy appèlaansoek teruggetrek het.
Volgens Fakie is ooreengekom dat hy tot middel Mei tyd het om die dokumente aan Young te oorhandig.
"Ons is besig om die dokumente deur te werk en te kopieer."
Fakie sê omdat baie van die dokumente sensitief is en hy dit uit hoofde van sy werk as OG by ander staatsdepartemente bekom het, moet dié departemente eers van die dokumente deurkyk om te bepaal of dit wel uitgereik mag word.
Ingevolge Hartzenberg se hofbevel moet die OG aan Young 'n lys verskaf van sensitiewe dokumente met redes waarom dit nie deur enigiemand gesien mag word nie.
With acknowledgement to Pieter Malan and Rapport.