Die Barometer |
Publication | Advokaat Reg |
Date | 2003-09-01 |
Reporter |
Johan van Zyl |
Transparency International, die enigste internasionale nieregeringsorganisasie wat uitsluitlik korrupsie bekamp, het in Julie vanjaar sy eerste globale korrupsie-barometer uitgereik nadat 40 838 mense in 47 lande twee vrae moes beantwoord. In reaksie op die vraag in watter instelling respondente die graagste korrupsie wil uitroei, het drie uit elke vier lande politieke partye gekies. In Suid-Afrika wou 23,8% van die respondente korrupsie in die polisie uitroei, gevolg deur politieke partye (21,1%) en opvoedkundige instellings(14,4%). In antwoord op die vraag of korrupsievlakke binne die volgende drie jaar gaan verander, was Suid-Afrika een van net agt lande waar respondente glo korrupsie gaan dramaties styg. Net in Indië, Turkye en Kameroen is die mense swartgalliger.
Transparency International se persepsie-indeks oor korrupsie (CPI) wat in Augustus verlede jaar ná meningspeilings in 102 lande uitgereik is, het opvattings gemeet oor hoe korrup staatsamptenare en politici is. Op dié lys, wat strek van die betroubaarste tot korrupste lande, het net vyf lande in Afrika die boonste helfte gehaal. Suid-Afrika (in die 36ste posisie) is deur Botswana en Namibië geklop.
PricewaterhouseCoopers se globale ekonomiese misdaadopname onder meer as 3 500 uitvoerende hoofbeamptes en finansiële direkteure wêreldwyd is in Julie vanjaar uitgereik. Sowat 71% van die Suid-Afrikaanse maatskappye het ekonomiese misdaad ervaar, vergeleke met die gemidelde van 37%. Batediefstal is aangemeld deur 79% van die plaaslike respondente, en korrupsie en omkopery deur 21%, vergeleke met die globale syfers van onderskeidelik 59,9% en 14%. Hoewel 41% van die deelnemers korrupsie en omkopery as die belangrikste misdade beskou, kon net 21% werklike gevalle aanmeld.
Idasa en Afrobarometer pols sedert 1994 Suid-Afrikaners oor die belangrikste probleme waaraan die regering moet aandag skenk.
In 1994 het korrupsie glad nie die lys gehaal nie. In 1995 het 2% van die respondente dit aangemeld, 6% in 1997, 10% in 2000 en in ‘n peiling onder 2 400 burgers in September en Oktober verlede jaar het korrupsie (13%) die agste plek gehaal ná werkloosheid (84%), misdaad (35%), armoede (28%), vigs (26%), behuising (22%) en onderwys (15%). Sowat 31% van die wit respondente het korrupsie aangemeld, vergeleke met Indiërs (22%) en swart en bruin respondente (11% elk).
Met erkenning aan Johan van Zyl en die Advokaat Reg.