Groot Kanonne Bulder |
Publication | Beeld |
Date | 2003-09-01 |
Reporter |
Willem Jordaan |
Web Link |
Tydens die Skerpioene se ondersoek na bewerings van korrupsie teen adj.pres. Jacob Zuma het hy in 'n onverkwiklike twis betrokke geraak met adv. Bulelani Ngcuka, nasionale direkteur van openbare vervolging. Maar wie is dié twee ANC-swaargewigte wat nou kragte meet? Willem Jordaan het profiele van albei saamgestel.
Vinnige opgang loop uit op afgeskaalde mag
Jacob Gedleyihlekiza Zuma is in 1942 in Inkandla in Natal gebore.
Sy ma was 'n huiswerker in Durban en sy pa is dood kort nadat hy gebore is. Hy het geen formele opleiding gehad nie.
Desondanks het Zuma vinnig opgang gemaak in ANC-geledere en hy kan 'n lang lys struggle-prestasies, asook vier eregrade, agter sy naam skryf.
Op 16-jarige ouderdom het hy by die ANC aangesluit en later ook by Umkhonto we Sizwe (MK), die ANC se militêre vleuel.
In 1963 is hy in hegtenis geneem terwyl hy en 45 rekrute probeer het om die land te verlaat. Hy is gevonnis tot tien jaar tronkstraf op Robbeneiland op aanklag van sameswering om die regering omver te werp.
Toe hy in 1973 vrygelaat is, is hy na die buiteland. Hy moes onder meer MK-lede strategies in Suid-Afrika help plaas en ondersteun. Zuma se sukses op dié gebied het gesorg dat hy vinnig opgang gemaak het en in die jare 80 het hy hoof van die ANC se intelligensie-eenheid geword.
Dit is die kennis en kontakte wat Zuma in dié posisie opgebou het wat bydra tot die ontsag waarmee hy in ANC-kringe bejeën word. Sou hy in die huidige storm tot 'n val kom, word gesê, kan dít ook 'n paar hoës se lot wees as hy geheime sou uitlap.
Magte 'n tameletjie
Zuma was een van die eerste ANC-uitgewekenes wat na Suid-Afrika teruggekeer het vir onderhandelings met die destydse apartheidsregering. In 1994 is hy verkies tot nasionale voorsitter van die ANC.
Zuma het steeds baie invloed in KwaZulu-Natal gehad en met sy sterk onderhandelingsvaardighede het sy pogings om 'n skikking met die IVP aan te gaan en 'n einde aan geweld in KwaZulu-Natal te maak 'n deurslaggewende faktor geword. Hy was ook LUR vir ekonomiese sake en toerisme in dié provinsie, 'n portefeulje waarin hy geen buitengewone sukses behaal het nie.
Sy invloed en gewildheid in die ANC het wel deurlopend gegroei - van die hoër gestoeltes regdeur tot op grondvlak.
In 1997 is hy verkies tot adjunkpresident van die ANC en in 1999 het hy pres. Thabo Mbeki se adjunk in die regering geword.
Zuma se mag en invloed in die organisasie word nie weerspieël in die magte wat hy as adjunkpresident het nie. Mbeki, wat besonder wye mag as adjunkpresident gehad het, het Zuma se magte stelselmatig afgeskaal nadat hy president geword het. Terselfdertyd het hy sy eie magte gekonsolideer. Die immer gewilde Zuma - wat volgens ingeligtes die ambisie begin koester het om by Mbeki die leisels as president oor te neem - het net mooi niks hiervan gehou nie.
Só het spanning tussen die president en sy adjunk begin groei.
Zuma se hoofstroom-standpunt oor MIV/vigs as voorsitter van die Suid-Afrikaanse nasionale vigsraad het hom die sterk steun van eendersdenkendes in die ANC besorg en hy is toenemend in die ANC as 'n potensiële opvolger vir Mbeki beskou.
Terselfdertyd het Mbeki se lompe hantering van die MIV/vigs-kwessie hom groot skade berokken - in die buitewêreld, maar ook in die ANC.
In 2001 het Zuma uit die bloute 'n verklaring uitgereik waarin hy verklaar het hy het geen ambisie om president te word nie.
Dié verklaring, en die feit dat daar geen voor die hand liggende rede was wat Zuma kon noop om dit uit te reik nie, het gelei tot bespiegelings dat hy tussen die reëls wou laat blyk dat hy onder druk van Mbeki is.
Slagoffer van vriend?
Ironies genoeg het Zuma baie invloed in die ANC en talle regeringsmagte, maar oor sy eie geldsake het hy oënskynlik min beheer uitgeoefen.
Luidens bewerings in die Skerpioene se klagstaat teen mnr. Schabir Shaik, sakeman en Zuma se finansiële raadgewer, het Shaik bykans algehele beheer oor Zuma se geldsake gehad.
Dit is bevestig deur verklarings wat Zuma uitgereik het te midde van die storm om sy kop waarin hy te kenne gegee het Shaik het sy sake geadministreer.
Teen dié agtergrond is daar in ANC-geledere verskillende teorieë oor die bewerings teen Zuma.
Die een is dat dit deel is van 'n politieke sameswering om Zuma uit te skakel as aanspraakmaker op die presidentskap en dat hy heeltemal onskuldig is.
'n Ander is dat hy as naïewe en onopgeleide man 'n slagoffer geword het van die beweerde skelmstreke van sy vriend, vertroueling en finansiële raadgewer Shaik.
Misdaadstryder skroom nie om koppe te stamp
Met sy aanstelling deur oudpres. Nelson Mandela as direkteur van openbare vervolging het Bulelani Thandabantu Ngcuka se loopbaan 'n sirkel voltooi: Hy het weer ten nouste te make gehad met die howe waar hy meer as 20 jaar gelede sy loopbaan as 'n staatsaanklaer en menseregte-aktivis begin het.
Uit sy CV blyk dat hy 'n hoogs geleerde man is en wye ervaring het.
Hy het die B.Proc-graad verwerf aan die Universiteit van Fort Hare en as aanklaer gewerk voordat hy sy klerkskap by Griffiths Mxenge-prokureurs voltooi het.
Sy aktivisme het by drie geleenthede tot aanhouding en tronkstraf gelei.
Terwyl hy in die tronk was, het hy aan Unisa begin studeer en die LL.B.-graad verwerf.
Nadat hy in 1985 vrygelaat is, het hy Suid-Afrika verlaat en hom in Switserland aangesluit by sy vrou, mev. Phumzile Mlambo-Ngcuka, deesdae minister van minerale en energie.
In Genève het hy drie jaar lank gewerk aan 'n projek van die Internasionale Arbeidsorganisasie om opleiding aan Suid-Afrikaanse vakbondlede te verskaf.
Terselfdertyd het hy 'n meestersgraad in internasionale betrekkinge voltooi.
Hollywood-truuks?
As lid van die ANC-afvaardiging na Kodesa het hy in verskillende werkgroepe gedien, insluitend die groep wat die transformasie van die regbank bespreek het.
In 1994 het hy parlementslid en hoofsweep van die ANC geword. In 1997 het hy ondervoorsitter van die nasionale raad van provinsies geword.
Nadat hy in 1998 aangestel is as direkteur van Nasionale Vervolging (NV) het die NV, veral die Skerpioene, gou hoofopskrifte gehaal.
Die beeld van swart motors met rooi skerpioene op die deure wat ongenooid by die een of ander vermeende boosdoener se huis opdaag, is gereeld in TV-nuusbulletins gesien.
Vermoedelik was dít die taktiek wat gelei het tot die beskuldiging deur mnr. Kgalema Motlanthe, sekretaris-generaal van die ANC, dat Ngcuka en sy Skerpioene "Hollywood-truuks" gebruik.
Ngcuka se reaksie op dié beskuldigings te midde van die storm om Zuma was eenvoudig: "Dit werk."
Hy is waarskynlik reg. Te midde van 'n indruk wat ontstaan het dat die regering ondoeltreffend is in sy pogings om misdaad hok te slaan, het die Skerpioene stadigaan begin om voorbeelde tot die teendeel te lewer - veral op die gebied van georganiseerde misdaad, maar ook wat betref taxigeweld en terrorisme.
Dié suksesse het daartoe gelei dat die NV vinnig gegroei het met Ngcuka aan die stuur. Sedert 2000 het sy begroting bykans verdubbel tot R950 miljoen per jaar - 'n bedrag wat onder meer 'n personeelkomponent van 3 524 onderhou.
By die stigting van die NV (wat verantwoording doen aan Mbeki) het opposisiepartye gewaarsku só 'n magtige liggaam kan gevare vir die demokrasie inhou as dit deur die uitvoerende gesag misbruik word.
Ngcuka het van meet af aan voet by stuk gehou dat die vervolgingsgesag, soos enige ander owerheidsinstelling, gebind word deur die handves van menseregte.
Lasterlike e-pos
Desondanks het die NV se uitgebreide magte Ngcuka in konflik gebring met ander hoës en owerheidsinstellings.
Die vernaamste voorbeeld is komm. Jackie Selebi, nasionale polisiehoof.
Dit is 'n ope geheim dat dié twee gereeld koppe stamp.
Dié spanning het onlangs in die openbaar oorgekook toe die regering laat blyk het hy gaan die Skerpioene se mandaat hersien.
Een rede is die wyse waarop dié ondersoekeenheid gereeld met die polisie bots.
Van die klagtes in polisiegeledere is dat die Skerpioene 'n saak van die polisie gryp en dan al die lof inoes as dit tot 'n suksesvolle vervolging lei.
En dat die Skerpioene baie meer verdien as gesoute polisie-ondersoekers.
Zuma self het Ngcuka beskuldig van politieke motiewe.
Uit 'n ander voorval blyk dit ook iemand het sy mes in vir Ngcuka.
'n Naamlose e-pos waarin Ngcuka se karakter met lasterlike bewerings tot in die persoonlikste besonderhede aangeval word, is onlangs aan koerantredakteurs gestuur.
En dan is daar die gerug dat Ngcuka straks die vervolgingsgesag kan verruil vir die private sektor - dat hy 'n goeie aanbod van De Beers gehad het.
Ngcuka het dié gerug in die kiem gesmoor.
"Ek is hier om te bly," was sy duidelike boodskap.
Met erkenning aan Willem Jordaan en die Beeld.