Radiokrasie |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-09-04 |
Web Link |
Die SAUK het pas op die harde manier die slagoffer van sy eie poging tot kopswaaiery geword. Al die pogings om nou te ontken dat hy sy personeel en stasiebestuurders wou muilband, is woorde in die wind.
In die toekoms sal kykers en luisteraars sy politieke beriggewing met agterdog bejeën en sal hy - soos in die verlede - gebrandmerk staan as His Master's Voice.
Die SAUK-memorandum wat uitgelek het, spreek van 'n politieke naïwiteit en kan sagkens as manipulering beskou word. Andersyds is dit niks anders as 'n poging tot sensuur en politieke dienstigheid nie.
Die groep se verduideliking is dat hy nie enigeen wou toelaat om sommer goedsmoeds 'n mening uit te spreek oor byvoorbeeld die Jacob Zuma-kwessie nie en dat dit bloot oor ordelike nuusdekking gaan.
Welkom tot die demokrasie. Die SAUK self het gesorg vir die radiokrasie en TV-krasie van Suid-Afrika waarin elkeen elke dag sy reg op vryheid van spraak kan uitleef.
Soos elkeen kan getuig wat elke dag kletsradio moet verduur, beteken meningsvryheid egter nie dat elkeen iets het om te sê nie. Maar die reg om te praat, is aan die hart van die demokrasie en 'n fundamentele mensereg.
Internasionaal woed daar ook 'n debat oor kopswaaiers of "spindokters" wat die waarheid manipuleer waarvan die SAUK nie onbewus kan wees nie.
Pas weer - as jy die werklikheid volgens CNN glo - is almal oortuig dat Irak wapens vir massavernietiging het en dit wil gebruik.
Die SAUK het die slagoffer geword van wat Milan Kundera "imagologie" genoem het - die kuns om vir mense te sê wat die werklikheid is en wat hulle daarvan moet dink.
'n Robuuste debat is nodig vir 'n doeltreffende demokrasie. Die SAUK se poging om dit te keer pleks van aan te moedig, is onaanvaarbaar.
Met erkenning aan Die Burger.