Publication: Beeld Issued: Date: 2003-07-01 Reporter:

Wapengeld

 

Publication 

Beeld

Date 2003-07-01

Web Link

www.news24.co.za

 

Die erkenning van die Britse regering Maandag dat "kommissie" van 150 miljoen Britse pond betaal is om die maatskappy BAE Systems se verdedigingskontrak met die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag te beklink, verskerp die agterdog oor dié reeks wapentransaksies.

In Suid-Afrikaanse rand is dié kommissie byna R2 000 miljoen werd.

Wie het die geld gekry? Hoekom? Wat kon enige agent of tussenganger doen wat soveel geld werd is? As die agent wettig binne die reëls gespeel het, hoekom dan so geheimsinnig wees daaroor?

Die enigste klein vissie wat tot dusver opgeoffer is, is die ANC se gierige voormalige hoofsweep, mnr. Tony Yengeni, wat afslag gekry het op 'n duur Duitse motor van 'n maatskappy wat ook om 'n wapenkontrak meegeding het.

Die afslag wat Yengeni gekry het, is kleingeld in vergelyking met die bedrae wat nou ter sprake is.

Die regering wil ons graag laat glo dat 'n regverdige en deursigtige proses gevolg is om te besluit wie die kontrakte kry.

As dit so was, hoekom was dit nodig dat buitensporige kommissie betaal word?

Die regering se hantering van vrae oor die wapenkontrakte is reeds die afgelope jare gekenmerk deur ontwykings en ontkennings. Dit versterk net die agterdog.

Met hierdie nuutste wending in die Britse parlement (van alle plekke!) is die regering antwoorde aan die land verskuldig oor al die vrae rondom dié kwessie.

Met erkenning aan die Beeld.