Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-09-02 Reporter: Amanda Gouws

Die Zuma-Vraagstuk en die 2004-Verkiesing

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-09-02

Reporter

Amanda Gouws

Web Link

www.news24.com/Die_Burger

 

In die afgelope twee verkiesings het die meeste Suid-Afrikaners volgens hul lojaliteit teenoor, of identifikasie met, 'n spesifieke party gestem.

As mense volgens partylojaliteit stem, wys dit op 'n langstaande verbintenis met die party. Diegene met 'n sterk partylojaliteit is bereid om minder krities teenoor hul party te staan en om die beleidsgebreke te ignoreer.

Daarteenoor is vraagstukstemmers bereid om krities na die partye te kyk, die voor- en nadele van beleid teen mekaar op te weeg en om gebrekkige dienslewering as onaanvaarbaar te beskou. Maar meer nog, om een party vir 'n ander te verruil.

Uit navorsing in Suid-Afrika het geblyk slegs 'n klein minderheid van die kiesers is vraagstukstemmers. So het die partylojaliteit van NP-stemmers die NP 40 jaar lank aan die bewind gehou. Tans dra die partylojaliteit van ANC-kiesers by tot die eenparty-oorheersing van die ANC.

Aan die ander kant moet 'n mens vra of kiesers wat vir die ANC stem, enige lewensvatbare alternatief vir die ANC sien. Die antwoord is heel moontlik nee. Solank as wat die drieledige alliansie van die ANC, Cosatu en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party bereid is om as 'n alliansie 'n verkiesing aan te durf, sal die opposisie teen die ANC klein en gefragmenteerd bly.

Die sewe nuwe partye wat sedert die laaste oorlooptydperk bygekom het, vererger die fragmentasie.

Maar om volgens partylojaliteit te stem, beteken dat kiesers gebreke in partye moet aanvaar. En hier skep die Zuma-skandaal 'n dilemma vir kiesers. Moet hulle uit lojaliteit teenoor 'n party die wanoptrede van hul leiers aanvaar, of moet die leiers tot verantwoording geroep word?

Dit gaan oor 'n visie vir die toekoms van Suid-Afrika. Tien jaar gelede het ons 'n liberale demokrasie gestig met die visie van 'n "reŽnboognasie" met goeie bestuur (governance) as 'n kriterium om die doelstellings van onder meer deursigtigheid, verantwoordbaarheid, verantwoordelikheid en verteenwoordigendheid te bereik. Die feit dat ons as kiesers van die korrupsie bewus is, wys vir ons dat die regering wel deursigtig probeer wees. Dit sou veel erger gewees het as ons nie van die korrupsie bewus was nie. Hiervoor het ons grootliks 'n sterk ondersoekende pers te danke, maar selfs die pers word in die Zuma-sage van onverantwoordelikheid beskuldig. Is dit hier 'n geval van "as ons nie van die boodskap hou nie, maak ons die boodskapper dood"?

Selfverryking van politieke leiers kan nie deel van die visie vir demokrasie vorm nie.

Die groter vraagstuk gaan oor verantwoordbaarheid van politici aan hul kiesers. In die onlangse verslag van die Van Zyl Slabbert-taakspan, wat die probleem van verantwoordbaarheid in die kiesstelsel ondersoek het met die oog op kiesstelselhervorming, is een van die punte wat geopper is dat verantwoordbaarheid nie soseer die probleem van die kiesstelsel is nie, maar geleŽ is in die houding van politieke verteenwoordigers teenoor hul kiesers. Wanneer 'n politieke stelsel lank deur 'n dominante (een) party geregeer word, vervaag die grense tussen die belange van die party en die staat (dit het die NP-regering ons gewys) en hou leiers op om responsief teenoor hul kiesers te wees. Die staat word hul speelveld vir eie gewin.

Politieke leiers op die hoogste vlak, soos adj.pres. Zuma, moet lei deur 'n voorbeeld te stel. Zuma as individu is nie nou die enigste aangeklaagde nie, maar ook die amp van adjunkpresident. 'n Eerbare optrede sou wees om die adjunkpresident van sy amp te onthef totdat die saak opgeklaar is. Maar die ANC het gekies om hom te beskerm, tot groot verdeeldheid binne die party. Talle ander leiers op 'n hoŽ politieke vlak wat hulle aan korrupsie skuldig gemaak het, het hierdie beskerming geniet. Dink maar aan Tony Yengeni en Winnie Madikizela-Mandela.

Een manier waarop kiesers teenkanting teen die optrede van partye kan wys, is deur vir ander partye te stem. Maar as hulle geen alternatief sien nie, sal hulle weer vir dieselfde party stem en so kan Zuma nog moontlik president word. Mense wat meer sinies is dink dat die wolk wat nou oor Zuma se kop hang, nŠ die volgende verkiesing gebruik sal word om hom nie weer as adjunkpresident aan te stel nie. Dan is die groter vraag wie volg Mbeki op?

Maar kiesers is dit ook aan die demokrasie verskuldig om krities te staan teenoor hul leiers en die bestuur wat hulle uitoefen. Deur elke keer vir dieselfde party te stem ongeag ontevredenheid, gee kiesers toestemming om op 'n wyse geregeer te word wat leiers nie tot verantwoording roep nie. Die belangrikste instrument wat kiesers in 'n demokrasie het om leiers tot verantwoording te roep, is verkiesings. As ons dit nie gebruik nie, sal leiers begin kyk hoe ver hulle die grense kan oorskry sonder om betrap te word.

Miskien is dit tyd dat kiesers in die 2004-verkiesing vraagstukstemmers word.

Die skrywer is hoof van die departement politieke wetenskap van die Universiteit van Stellenbosch.

Met erkenning aan Amanda Gouws en Die Burger.