Publication: Rapport Issued: Date: 2003-11-29 Reporter: Pieter Malan

Vrae oor Mbeki-'Moordklag' : Verdagte Vry en Kaap toe

 

Publication 

Rapport

Date 2003-11-29

Reporter

Pieter Malan

Web Link

www.news24.com/Rapport

 

Die polisie-ondersoek na 'n bisarre "sameswering" om pres. Thabo Mbeki te vermoor, het die afgelope week vinnig stoom verloor nadat die vervolgingsgesag Vrydag in die Pretoriase streekhof erken het dat paspoortbedrog die enigste klag is wat in dié stadium ondersoek word teen die hoofverdagte, 'n voormalige ANC-spioen.

Mnr. Uranin Solomon, beter bekend as Bheki Jacobs, is Vrydag op borgtog van R3 000 vrygelaat en het kort daarna saam met sy suster Soraya na Kaapstad vertrek.

Jacobs is verlede Saterdag in Kaapstad in hegtenis geneem nadat tientalle polisielede in drie verskillende klopjagte toegeslaan het op sy huis in Constantia, sy ouerhuis in Observatory en 'n hotelkamer in Pretoria wat deur hom gebruik is.

Die klopjagte het blykbaar hul oorsprong by 'n dokument wat sowat 'n maand gelede aan die politikus me. Patricia de Lille, leier van die Onafhanklike Demokrate, en 'n paar joernaliste gestuur is.

Ondersoekers glo blykbaar dat Jacobs die dokument opgestel het omdat die dokument oorspronklik van die e-pos-adres van ene D.J. Solomon gestuur is.

Jacobs hou vol dat hy niks van die dokument weet nie en dat D.J. Solomon in elk geval nie een van sy vele skuilname is nie. (Lees die berig hierby.)

"Ek beskou dit as 'n belediging dat die polisie dink ek is so dom. As ek so iets wou uitstuur, sou ek seker gemaak het dat dit nooit na my toe teruggespoor kan word nie," het Jacobs Vrydag aan Rapport gesê.

Op die oog af is die dokument en Jacobs se inhegtenisneming deel van 'n voortslepende propagandaveldtog tussen die twee kampe voor die Hefer-kommissie - dié van die direkteur van openbare vervolging, adv. Bulelani Ngcuka, aan die een kant en die ANC-spioen mnr. Mo Shaik en voormalige minister van vervoer, mnr. Mac Maharaj, aan die ander kant.

Waarom Jacobs verdink word van sameswering om die president te vermoor, is nie duidelik nie omdat die dokument (waarvan 'n kopie in Rapport se besit is) geen woord rep oor Jacobs se betrokkenheid nie.

Jacobs se naam kom wel in die dokument voor, maar hy word eerder bestempel as "een van die slagoffers" van die propagandaveldtog van die Mac-en-Mo-kamp.

Luidens die dokument sou dié kamp, wat bestaan uit vyftien mense, wat bekende sakemanne en lede van Mbeki se kabinet insluit, besig wees om die staat en pres. Thabo Mbeki te ondermyn met die "moontlikheid van 'n sluipmoordaanval op die president".

Die dokument meld ook dat Shaik in die apartheidsjare 'n dubbele spioen vir sowel die ANC as die apartheidsregering was.

Shaik het aan Rapport gesê die bewerings is belaglik en bygevoeg dat 'n lid van die Skerpioene, mnr. Mauritz Spaarwater, binnekort oor die dokument in hegtenis geneem gaan word. Spaarwater is betrokke by ondersoeke teen perlemoenstropers in Hermanus.

Dit word algemeen aanvaar dat Jacobs nie 'n groot vriend van die Shaik-en-Maharaj-kamp is nie omdat hy klaarblyklik die persoon is wat inligting aan De Lille gegee het wat haar in staat gestel het om aantygings van grootskaalse korrupsie in die wapenaankope in die parlement te maak.

Jacobs het na bewering ook 'n groot aantal dokumente om dié bewerings te staaf aan ondersoekers oorhandig - dokumente wat nou die grondslag vorm van verskeie ondersoeke teen senior ANC-lede asook die hofsaak van die Kaapse wapenverskaffer, dr. Richard Young.

Dit is ook nie duidelik op watter gronde die polisie se ondersoekeenheid vir misdade teen die staat 'n lasbrief verkry het vir die deursoeking van Jacobs se huis en sy inhegtenisneming nie - veral omdat die sogenaamde samesweringsdokument Jacobs nie regstreeks betrek nie.

Dit is ook nie duidelik waarom Jacobs verlede Sondag om 02:00 in 'n luukse straler, vermoedelik 'n Beech Jet 400 van die polisie, van die Ysterplaat-lugmagbasis in Kaapstad na Waterkloof in Pretoria gebring is nie en waarom hy in 'n hof in Pretoria verskyn weens misdrywe wat in Kaapstad gepleeg is nie.

Verder is dit onduidelik waarom die polisie se eenheid teen ernstige ekonomiese misdrywe besig is om 'n betreklik mindere misdryf - paspoortbedrog - teen Jacobs te ondersoek.

Die polisiewoordvoerder Phuti Setati het die afgelope week geweier om kommentaar op enige van hierdie aspekte te lewer.

Mnr. Makhosini Nkosi, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, sê hy kan ook nie verklaar waarom Jacobs in Pretoria verskyn nie. "Jy moet dit vir die polisie vra," het hy aan Rapport gesê.

Met erkenning aan Pieter Malan en die Rapport.