Publication: Die Burger Issued: Date: 2004-05-12 Reporter: Willem Jordaan

Skoor Kort Voorsitter Uit Opposisiebanke

 

Publication 

Die Burger

Date 2004-05-12

Reporter

Willem Jordaan

Web Link

www.news24.com/Die_Burger/

 

Die moontlikheid dat die staande komitee oor openbare rekenings (Skoor) 'n ANC-voorsitter kan kry, is verlede week geopper toe mnr. Vincent Smith, ANC-LP, voorlopig as voorsitter van dié waghondkomitee aangewys is.

Die ANC het weliswaar aangedui dat dit 'n tydelike reëling is, terwyl daar nog met opposisiepartye onderhandel word oor verskillende voorsitterskappe. Maar "vir eers" word sommer maklik "vir altyd".

Hopelik kry Skoor wel binnekort 'n opposisie-voorsitter, soos die tradisie sedert 1994 was. Mnr. Ken Andrew van die DP was ná 1994 die eerste voorsitter van Skoor. Hy is deur dr. Gavin Woods van die IVP opgevolg en nadat hy te midde van vraagtekens oor Skoor se rol in die wapenondersoek bedank het, het mnr. Francois Beukman van die NNP oorgeneem.

Die rede vir dié tradisie is juis dat dit hierdie komitee se rol is om wanpraktyke en korrupsie in die besteding van staatsgeld oop te vlek. Maar naas dié tradisie getuig die geskiedenis van die regering se omstrede wapenkontrak en die draai wat dit voor Skoor gegooi het, terselfdertyd van die noodsaak vir 'n onafhanklike voorsitter.

Die ondersoek na die wapentransaksie het voor Skoor beland nadat dié komitee opdrag gekry het om ondersoek in te stel na bewerings dat die wapenverslag gedokter is.

Ná Vincent Smith se voorlopige aanstelling is dit die moeite werd om die geheue 'n bietjie te verfris oor watter hase al uit die ANC-hoed gepluk is rakende die einste wapenkontrak. Dié truuks het die akroniem Skoor nogal betekenisvol gemaak:

Waarom het regter Willem Heath byvoorbeeld sy werk as leier van die ontbonde spesiale ondersoekeenheid verloor nadat hy aanvanklik by Skoor se ondersoek betrek is?

Hy het te veel skoor gesoek met die ANC-regering. Druk van die uitvoerende gesag, die ANC-hoofsweep en die speaker het daartoe gelei dat die Heath-eenheid nie aan die ondersoek deelgeneem het nie en uiteindelik ontbind is.

Waarom is mnr. Andrew Feinstein uitgewerk as leier van die ANC-studiegroep in Skoor? Hy het skoor gesoek met sy eie partygenote.

Feinstein het uit die politiek getree nadat die ANC hom as sy verteenwoordiger in die komitee vervang het omdat hy gans te ywerig was met moeilike vrae om te verseker dat belastingbetalers waarde vir hul geld kry.

Die ANC se strategie het in Feinstein se geval 'n asembenemende kulkunsie bevat. Tony Yengeni, destyds ANC-hoofsweep en nou appèlafwagtende handelsmisdadiger, het sy mediamense destyds ontbied om 'n verklaring saam te stel wat met rook en vuurwerk aangekondig het dat die ANC se studiegroep in Skoor "versterk" word.

Die towerwoorde word gespreek, die mantel weggepluk, en siedaar: Waar Feinstein kort tevore in die voorsitterstoel van die studiegroep gesit het, sit mnr. Geoff Doidge toe.

Waarom kon dr. Gavin Woods van die IVP nie anders as om te bedank as komiteevoorsitter nie? Hy het skoor gesoek met die ANC.

In 'n poging om die regering se omstrede wapenkontrak opnuut in die kollig te stoot het Woods in 2002 desnoods sy laaste kaart gespeel en bedank.

Herhaalde inmenging van die ANC het Skoor dermate aan bande gelê dat hy nie die multimiljardrandwapenkontrak deeglik kon ondersoek nie, het Woods destyds met sy bedanking gesê.

Die ironie van die telkaart is duidelik: Terwyl Yengeni die enigste groot vis is wie se kop tot dusver in verband met die wapentransaksie gerol het, lyk die ongevalle aan die kant van die ondersoekers beroerd. Eers Heath, toe Feinstein en later Woods. Dit op sigself dui op goeie rede tot gesonde agterdog en 'n noodsaak vir 'n onverskrokke onafhanklike voorsitter van die waghondkomitee.

Skoor het immers 'n kardinale rol om toesig oor die uitvoerende gesag te hou en veral om te sorg dat belastingbetalers waarde vir hul geld kry met regeringsuitgawes. Ná 1994 het Skoor daarvoor bekend geraak dat sy lede doeltreffend oor partypolitieke grense heen saamwerk om dié doel te bereik.

Juis omdat Skoor met openbare uitgawes handel, bly dit noodsaaklik dat dié komitee konsensusbesluite neem en dat hy nie van stryk gebring word deur partypolitieke verskille nie. Die doeltreffendheid sou onmiddellik taan as die lede hul partybelange dien, eerder as om op die belastingbetalersbelang te fokus.

Aanvanklik is dié tradisie pligsgetrou gehandhaaf, maar sedert sy ondersoek na die wapenkontrak is dit erg gekneus.

As Skoor se aansien as waghondkomitee nou geknak word deur 'n breuk te maak met die bestaande tradisie, versaak die nuwe parlement een van die vernaamste doelstellings wat die nuwe speaker, me. Baleka Mbete, vir haar termyn in die vooruitsig gestel het.

Dié prysenswaardige doelstelling is om die parlement se oorsig en moniteringsrol te versterk. Hou die ANC die voorsitterskap, word dié rol verswak.

Met erkenning aan Willem Jordaan en Die Burger.