Publication: Die Burger Issued: Date: 2004-07-28 Reporter: Kommentaar

Vervolger

 

Publication 

Die Burger

Date 2004-07-28

Reporter

Kommentaar

Web Link

www.news24.co.za

 

Ofskoon pres. Thabo Mbeki amptelik nog die bedanking van adv. Bulelani Ngcuka as nasionale direkteur van openbare vervolging moet oorweeg, dui alles in diť stadium daarop dat hy dit wel sal aanvaar. Die vraag is dan wie sy opvolger moet wees.

Een naam wat reeds in politieke kringe rondgegooi word, is diť van mnr. Ngoako Ramathlodi, gewese premier van Limpopo. Dit word moontlik met voorbedagte rade so gedoen om as 't ware die reaksie te toets voordat die amptelike aankondiging gedoen word.

Ramathlodi is 'n regsgeleerde en is in die proses om tot die balie toegelaat te word, wat beteken dat hy wel deeglik gekwalifiseer is vir die pos. Maar by die beoordeling daarvan is daar een belangrike beginsel wat nie uit die oog verloor moet word nie. Die nasionale vervolger beklee 'n sleutelpos in die najaag van reg en geregtigheid. Hy moet nie net hard teen misdadigers kan optree nie, maar ook teen prominente leiers, onder wie lede van die regering en die regerende party, wat hulle aan wangedrag skuldig maak. Dit beteken dat so 'n persoon bowenal onafhanklik moet wees.

Sonder om Ramathlodi se persoonlike integriteit hier te betwyfel, is die vraag of 'n aktiewe politikus - of een wat kort gelede die aktiewe politiek verlaat het - wel geskik is vir die pos. Ngcuka se bedanking is juis die gevolg daarvan dat hy 'n prominente ANC-leier was wat in die ANC se binnegevegte ingesuig is. Dis wat gebeur as so 'n persoon te na aan die regerende party staan.

Vir poste soos diť is iemand nodig wat reeds 'n geruime tyd buite die politiek staan en wat nie 'n gesiene partyleier is of kort gelede was nie. In die geledere van Suid-Afrika se advokatekorps moet daar tientalle geskikte kandidate wees.

Ramathlodi staan te na aan die ANC. Dit sou beter wees om na iemand anders te soek.

Met erkenning aan Die Burger.