Publication: Die Burger Issued: Date: 2004-05-11 Reporter: Nicolize Mulder

Yengeni se Appèlsaak tot Julie Uitgestel

 

Publication 

Die Burger

Date 2004-05-11

Reporter

Nicolize Mulder

Web Link

www.news24.com/Die_Burger/

 

Petoria - Die langverwagte appèlsaak van Tony Yengeni, voormalige hoofsweep van die ANC, is gister hier in die hooggeregshof vir nog minstens twee maande uitgestel.

Yengeni en die staat het ooreengekom dat die saak voorlopig op 26 Julie weer voor die hof sal dien. Die ooreenkoms is 'n bevel van die hof gemaak.

Die uitstel sal Yengeni en sy nuwe regspan kans gee om die verloop van sake in die hof te rekonstrueer. 'n Finale datum vir die aanhoor van die appèl sal ook in Julie bepaal word. Die rekonstruksie is nodig nadat Yengeni 'n nuwe regspan aangestel het. Hulle het min dokumente van die oorspronklike prokureurs gekry. Die plig om 'n volledige verslag van die verhoorhof voor die appèlregters te plaas, berus by Yengeni (die appellant).

Regter Ronnie Bosielo en waarnemende regter Pat Ellis was nie ingenome met die uitstel nie omdat hulle nie daaroor ingelig is nie.

Yengeni sê in hofstukke hy appelleer teen sy vonnis van vier jaar tronkstraf wat wyle streeklanddros Bill Moyses verlede jaar opgelê het. Dit het gevolg nadat Yengeni beken het hy het die parlement mislei oor voordele wat hy uit die regering se wapentransaksies bekom het.

Yengeni sê Moyses het nie in ag geneem dat hy 'n eerste oortreder was nie, werkloos was en dat die bedrog geen materiële skade vir die parlement ingehou het nie.

Met erkenning aan Nicolize Mulder en Die Burger.