Publication: Beeld Issued: Date: 2005-02-25 Reporter: Adriaan Basson

Shaik Glo dis in Orde

 

Publication 

Beeld

Date

2005-02-25

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - Mnr. Schabir Shaik dink nie dit was verkeerd van hom om R900 000 van die geld wat oudpres. Nelson Mandela aan adj.pres. Jacob Zuma gegee het vir homself te "neem" nie.

"Dít is die soort verhouding wat ek met die adjunkpresident het. Ek kan geld in en uit sy rekeninge skuif soos ek wil," het Shaik Vrydag in die Durbanse hooggeregshof getuig.

Shaik, Zuma se finansiële raadgewer, staan tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Hy het Vrydag erken dat hy R900 000 van die R2 miljoen wat Mandela in 2000 aan Zuma gegee het na die rekening van Floryn Investments, een van sy maatskappye, oorgeplaas het.

Volgens Shaik kon die geld hier "beter rente" verdien. Hy het egter later getuig dat die R900 000 "gebruik" is deur verskeie filiale van Shaik se Nkobi Holdings.

Hy was onbewus daarvan dat R1 miljoen van die Mandela-geld moes gaan vir herstelwerk aan die Zoeloe-koning se huis in die noorde van KwaZulu-Natal, het Shaik getuig.

Eers nadat Zuma vergeefs probeer het om R1 miljoen aan Development Africa, 'n trustfonds van die Durbanse sakeman mnr. Vivian Reddy, te betaal, het hy daarvan bewus geword. Development Africa sou glo die herstelwerk behartig.

Volgens Shaik het Absa hom in kennis gestel dat Zuma 'n tjek van R1 miljoen aan Development Africa uitgemaak het, maar dat daar nie naastenby genoeg geld in sy rekening oor was om dié bedrag uit te betaal nie.

"Ek het die adjunkpresident gebel en hy het gesê die Mandela-geld is nie sy geld nie, maar dit behoort aan Development Africa. Hy het gesê ek moet vir minister Zweli (Mkhize), destyds die ANC se tesourier-generaal in KwaZulu-Natal, daaroor kontak."

Volgens Shaik moes hy verskeie "reëlings" tref om geld te kry om Development Africa te vergoed vir die R900 000 wat hy "geneem" het.

Dit het behels die opstel van 'n diensverskafferooreenkoms tussen Shaik en die Franse wapenfirma Thomson-CSF (Thales) ingevolge waarvan vier bedrae van R250 000 elk aan Shaik betaal sou word.

Volgens Shaik moes hy vir Thomson-CSF sakegeleenthede in Suid-Afrika identifiseer as deel van dié maatskappy se teenhandel-inisiatiewe. Daar was egter "probleme" met die departement van handel en nywerheid se teenhandelbeleid en die ooreenkoms tussen Shaik en Thomson is beëindig.

Shaik het uiteindelik net een betaling van R250 000 ontvang, wat oorbetaal is aan Development Africa.

Die staat beweer die diensverskafferooreenkoms het net op papier bestaan en dat dit 'n manier was om "omkoopgeld" aan Zuma te verskuil.

Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.