Saak kan Invloed Hê |
Publication | Beeld |
Date | 2004-10-10 |
Reporter |
Jan-Jan Joubert, Adriaan Basson |
Web Link |
Durban - Maandag begin die hofsaak wat adj.pres. Jacob Zuma se ambisie om Suid-Afrika se volgende president te word, kan maak of breek.
Regter Hillary Squires en sy twee assessore sal Maandagoggend die regbank in hof A van die Durbanse hooggeregshof bestyg om oorweging te begin skenk aan 'n verhoor wat na verwagting maande kan duur - met die hoogste pos in die Suid-Afrikaanse politiek indirek op die spel.
Die beskuldigde is mnr. Schabir Shaik, finansiële raadgewer en boesemvriend van Zuma. Hy is iemand op wie se finansiële oordeel en kennis Zuma só blindelings vertrou dat hy Zuma se geldsake amper ten volle behartig het.
Nou staan hy tereg op twee aanklagte van korrupsie en een van bedrog wat met die regering se wapentransaksie verband hou, en Zuma word op bykans elk van die klagstaat se 45 bladsye genoem.
Shaik se verdediging sal na verwagting daarop gebou wees dat hy sedert die ANC se struggle-dae hegte vriendskapsbande met Zuma het en as 'n vriend vir hom geld gegee het. Schabir Shaik se broer, Moe, het aan die Mail & Guardian gesê sy broer se regspan gaan ook die redes betwis waarom sommige van Schabir Shaik se voormalige kollegas nou ewe skielik teen hom gaan getuig.
Die eerste getuie is prof. Themba Sono, onderleier van die Onafhanklike Demokrate, die party waarvan me. Patricia de Lille die leier is. Hy getuig waarskynlik Woensdag.
Maandag sal 'n sekondêre kwessie egter die kollig steel, naamlik of regter Squires 'n gesamentlike aansoek van e.tv en die SAUK gaan toestaan dat die hofverrigtinge oor televisie gebeeldsend sal word, soos verlede jaar met die Hefer-kommissie.
Die uitsaaiers voer aan dis in die openbare belang dat uitsendings plaasvind, maar die staat en die verdediging staan die aansoek teen.
Regsgeskiedenis sal gemaak word as Squires toestem dat dié strafregtelike verhoor regstreeks uitgesaai word.
Squires was al voor die verhoor in die spervuur, maar in Durbanse regskringe word gemeen daar is goeie rede waarom regter Vuka Tshabalala, regter-president van KwaZulu-Natal, vir Squires uit sy aftrede teruggeroep het om die saak te verhoor.
Squires is bekend as 'n ware heer en 'n hiper-korrekte regter wat in die vorige bedeling ryklik geput het uit die rebelse aard van die destydse Natalse regbank, wat die apartheidsregering gereeld laat les opsê het.
Squires se uitspraak oor die uitsending kan 'n aanduiding gee of hy groter klem sal plaas op die stigtelikheid van die hof of die mate van ongefiltreerde toegang wat die massamedia aan die wye publiek kan gee.
'n Titaniese stryd tussen twee gesoute senior advokate - Guido Penzhorn namens die staat en Francois van Zyl namens Shaik - lê voor in die saak wat na verwagting langer as twee maande sal duur.
Tans is die Shaik-verhoor tot 15 Desember op die hofrol geplaas, maar ingeligtes sê die kans is baie goed dat die verhoor in 2005 ná die Desember-reses hervat kan word.
Só lyk die regspanne
Namens die staat:
Namens Shaik:
Met erkenning aan Jan-Jan Joubert, Adriaan Basson en die Beeld.