Publication: Die Burger Issued: Date: 2004-12-04 Reporter: Adriaan Basson Reporter:

Shaik 'het Niks vir Zuma-Trust Gegee'

 

Publication 

Die Burger

Date 2004-12-04

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban - Mnr. Schabir Shaik se verweer dat bewyse van "omkoopgeld" aan adj. pres. Jacob Zuma eintlik onskuldige versoeke vir 'n skenking aan 'n onderwystrust was, is gister erg geknou deur die administrateurs van dié trust.

Die Jacob Zuma Education Trust het nóóit enige geld van die Franse wapenmaatskappy Thomson-CSF verwag nie en het "altyd" genoeg geld gehad om beurse aan studente te betaal, het die Durbanse hooggeregshof gehoor.

Shaik, Zuma se finansiële adviseur, staan tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog. Die staat beweer Shaik het gereël dat Thomson-CSF omkoopgeld van R500 000 aan Zuma betaal in ruil vir die beskerming teen 'n wapenondersoek en die bevordering van dié maatskappy se belange in Suid-Afrika.

'n Aantal bewysstukke is deur die staat ingedien wat glo dui op vergaderings tussen Shaik, Zuma en mnr. Alain Thétard, Thomson-CSF (Thint) se voormalige Suid-Afrikaanse hoof.

In sy kruisondervraging van mnr. Johan van der Walt, KPMG-ouditeur wat Shaik se geldsake bekyk het, het adv. Francois van Zyl SC, namens Shaik, gesê Shaik sal getuig daar was op 30 September 1999 en op 10 Maart 2000 vergaderings met Thomson-CSF waartydens 'n skenking aan die Jacob Zuma Education Trust bespreek is.

Die staat beweer die "omkopery" van Zuma is toe bespreek.

Volgens Van Zyl sal Shaik getuig hy het onderneem om geld vir die sukkelende onderwystrust van Zuma in te samel omdat Zuma glo te besig was.

Thomson-CSF het glo onderneem om 'n skenking te maak, maar dit het nooit gerealiseer nie. Onder hierdie omstandighede het oudpres. Nelson Mandela glo in Desember 2000 R2 miljoen aan Zuma geskenk.

Mnr. Gert Pretorius, destyds 'n trustee en sekretaris van die onderwystrust, het getuig geldinsameling was "altyd 'n kwessie". Daar was egter "altyd genoeg geld" vir skenkings aan hoërskole en tersiêre instellings.

Mnr. Theunis Bennemere, 'n senior werknemer by Absa Trust wat die Jacob Zuma Education Trust administreer, het getuig "daar was van die begin af genoeg geld" en dat die trust nooit geldnood gehad het nie.

Volgens albei was daar nooit sprake van 'n skenking deur Thomson-CSF nie. Dié maatskappy se naam is nooit op vergaderings genoem nie, het Pretorius getuig, terwyl Bennemere gesê het hy kon nie Thomson-CSF se naam in lêers kry nie.

Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.