Shaik-Skadu Volg Zuma |
Publication | Beeld |
Date | 2004-11-01 |
Reporter |
Jan-Jan Joubert |
Web Link |
Kaapstad. - Die skaduwee van die Schabir Shaik-verhoor agtervolg adj.pres. Jacob Zuma Woensdag tot in die parlement wanneer vrae voortspruitend uit die verhoor aan hom gestel gaan word.
Shaik, Zuma se finansiële raadgewer, staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.
Me. Raenette Taljaard, DA-LP wat haar in die regering se omstrede wapentransaksie verdiep het, het 'n vraag ingedien wat twee vroeëre parlementêre stellings van Zuma bevraagteken.
Die eerste deel van haar vraag is of hy sy antwoord van 13 Maart verlede jaar oor ontmoetings met die wapenhandelaar mnr. Alain Thétard sal heroorweeg.
Indien nie vra sy redes daarvoor en indien wel wanneer hy en Thétard ontmoet het en wat hulle bespreek het.
Dié deel van Taljaard se vraag verwys na 'n taamlik omstrede antwoord van Zuma nadat sy by hom wou weet of hy Thétard op 11 Maart 2000 of enige ander "gespesifiseerde" datums ontmoet het.
Zuma het geantwoord dat hy Thétard nie op 11 Maart 2000 ontmoet het nie en dat hy soveel mense ontmoet het in die tyd toe hy LUR vir ekonomiese sake in KwaZulu-Natal was dat hy nie almal kan onthou nie, maar dat Thétard moontlik deel van afvaardigings van die wapenhandelaar Thomson-CSF kon gewees het.
Dit is sedertdien as gemene saak tussen die staat en Shaik se regspan in die Durbanse verhoor geopper dat 'n ontmoeting waar sowel Shaik en Zuma as Thétard teenwoordig was, op 10 Maart - 'n dag vroeër as Taljaard se navraag - in Durban plaasgevind het.
Die tweede deel van die vraag wat Taljaard Woensdag stel, is potensieel skadeliker.
Sy gaan aan Zuma vra of hy, in die lig van die KPMG-verslag wat in die Shaik-verhoor voorgelê is, hou by sy stelling aan die parlementêre etiekkomitee dat die betalings wat hy van Shaik ontvang het, rentedraende lenings was.
Indien nie word hy gevra hoekom nie, en indien wel wat die korrekte besonderhede van dié betalings is.
Met erkenning aan Jan-Jan Joubert en die Beeld.