Publication: Beeld Issued: Date: 2005-04-08 Reporter: Adriaan Basson

Shaik Uitgeput na Getuienis in Verhoor Eindig

 

Publication 

Beeld

Date

2005-04-08

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - Mnr. Schabir Shaik was gister uitgeput "maar gelukkig" nadat getuienis in sy korrupsie- en bedrogverhoor tot 'n einde gekom het.

Die verdediging het gister sy saak gesluit en die staat het onsuksesvol probeer om nóg 'n getuie te roep.

Al wat nou voor uitspraak oorbly, is vir advv. Billy Downer, SC, die hoofaanklaer, en Francois van Zyl, SC, namens Shaik, om hul slotbetoë voor regter Hilary Squires te lewer.

Dit sal op 25 April begin.

"Ek is bly die verhoor het uiteindelik tot 'n einde gekom," het Shaik buite die Durbanse hooggeregshof gesê.

Volgens hom is dit 'n baie spanningsvolle tyd en was groot dele van die verhoor "verpolitiseer".

Hy het ook 'n dwarsklap na die media gemik en gesê hy is teleurgesteld met baie verslaggewers wat nie die saak "akkuraat" gerapporteer het nie.

Shaik was egter in sy skik met Squires se weiering om 'n verdere staatsgetuie aan te hoor.

"Aan die begin van die saak het ons saamgestem om almal volgens die reëls te speel en daar is van almal verwag om dit te doen. Dit is onregverdig van die staat om nou dié reëls te wil verander."

Volgens Shaik gaan hy nou vir twee weke rus voor die slotbetoë begin.

Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.