Sake Lyk na Spinnekop se Web |
Publication | Beeld |
Date | 2004-10-14 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban. - As die staat reg is, het mnr. Schabir Shaik sedert 1994 sy sakebelange soos die web van 'n flukse - en honger - spinnekop uitgebou.
As hoofaandeelhouer in Nkobi Holdings, genoem na die wyle ANC-tesourier mnr. Thomas Titus Nkobi, strek Shaik se houvas wyd en hy maak geld in elke denkbare sektor - veral waar staatstenders ter sprake is.
Met 'n Powerpoint-aanbieding het adv. Billy Downer, SC, namens die staat, Woensdag in die Durbanse hooggeregshof gewys hoe Shaik, met adj.pres. Jacob Zuma se ondersteuning, by die regering se omstrede wapenkontrak betrokke geraak het.
Dit hou verband met aanklag 3 op die Shaik-klagstaat: Dat hy omkoopgeld van R500 000 per jaar vir Zuma gereël het in ruil daarvoor dat Zuma 'n ondersoek na die wapenkontrak sou keer.
Shaik ontken skuld op al die aanklagte.
Die Skerpioene het die afgelope paar jaar 'n groot ondersoek onderneem na die wapenkontrak en ander verdagte sakekontrakte in veral KwaZulu-Natal.
'n Papierspoor, bestrooi met geld, het hulle uiteindelik voor die deur van Shaik, 'n Durbanse sakeman, gebring.
By baie van die betrokke ondernemings (daar is 11 beskuldigdes in die verhoor waarvan tien Shaik se maatskappye is) is Shaik se aandeelhouding verskans deur ander betrokkenes of maatskappye, het Downer gesê.
Shaik is die enigste aandeelhouer in drie ondernemings: Clegton Investments, Floryn Investments en Star Corporation SA.
Verder besit hy 95% van Chartley Investments se aandele en 25% van Clanwest Investments.
Nkobi Holdings word besit deur Star Corporation SA (60%), Clanwest Investments (20%), Floryn Investments (10%) en Workers College (10%).
Shaik het dus as enigste aandeelhouer in Star Corporation SA en Floryn Investments ten minste 'n 70%-aandeel in Nkobi Holdings.
Uit Nkobi Holdings het Nkobi Investments ontstaan. Laasgenoemde is die enigste aandeelhouer in tien ondernemings, waaronder vyf van die beskuldigdes.
Die staat voer aan dat geld uit die rekeninge van tien van Shaik se ondernemings aan Zuma oorbetaal is.
Shaik se betrokkenheid by die wapenkontrak het begin toe Nkobi Investments 25% van Thint, die Suid-Afrikaanse been van die Franse Thomson-CSF-wapenmaatskappy, se aandele bekom het.
Op sy beurt besit Thint 80% van African Defence Systems (ADS), aan wie die kontrak toegeken is om 'n onderdeel vir die nuwe korvette van die Suid-Afrikaanse vloot te verskaf
As die staat reg is, het Shaik en sy ondernemings via ADS via Nkobi Investments via Nkobi Holdings finansiële voordeel getrek uit die wapenkontrak.
Downer het ook vlugtig daarna verwys dat Floryn Investments, wat deur Shaik besit word en 10% aandele in Nkobi Holdings het, moontlik gebruik is om geld na die ANC te kanaliseer.
Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.