Shaik-Saak : Die Eintlike Teiken is Jacob Zuma |
Publication | Die Burger |
Date | 2004-10-25 |
Reporter |
Dawie |
Web Link |
Dit was darem 'n allemintige klomp getuienis wat vandeesweek in die Durbanse hooggeregshof in die saak teen die sakeman mnr. Schabir Shaik aangehoor is - getuienis wat in beginsel politieke dinamiet bevat.
Eers was dit die week van die sekretaresses. Nie minder nie as drie sekretaresses het allerlei bewerings teen Shaik gedoen, en daarna het die "bloedhond" van die ouditeurs, mnr. Johan van der Walt, die saak verder gevoer.
Dié artikel gaan ewenwel nie oor Shaik, wat van korrupsie en bedrog insake die lewering van wapenstelsels vir die vloot se fregatte aangekla word, nie. Shaik se saak moet sy beloop neem, en die regbank sal uiteindelik op grond van die getuienis voor hom tot 'n bevinding kom, wat dit ook al sal wees.
Die interessante van dié hofsaak is dat dit klaarblyklik nie primêr oor Shaik gaan nie, al is hy die enigste man wat in die beskuldigdebank staan. In die lig van die getuienis vandeesweek kan 'n mens nie anders as om tot die gevolgtrekking te kom dat die saak primêr teen adj.pres. Jacob Zuma gemik is nie.
Nou moet 'n mens hier versigtig wees. Shaik se hofsaak is nog aan die gang, en formeel is daar geen sprake dat regstappe teen Zuma beoog word nie.
Bowendien is die getuienis van die drie sekretaresses en "bloedhond" Van der Walt nog ongetoets. Die regter sal hom nog oor die waarheidsgetrouheid al dan nie daarvan moet uitlaat.
Tog is dit duidelik dat die staatsaanklaer 'n saak teen Zuma opbou. In die getuienis, ongetoets of nie, is 'n prentjie geskilder van 'n adjunkpresident wie se lewenstyl na bewering só uitspattig is dat hy permanent diep in die skuld is, en van 'n sakeman wat die land se tweede man as 't ware in sy sak het.
Daar was getuienis dat Shaik glo sy finansiële houvas op Zuma gebruik het om laasgenoemde te beweeg om van die wapenkontrakte na sy maatskappy se kant toe af te keer.
Dit is hier relevant om daaraan te herinner dat die uitgetrede direkteur van openbare vervolgings, mnr. Bulelani Ngcuka, vroeër vanjaar gesê het ofskoon daar 'n prima facie-saak teen Zuma bestaan, hy nie vervolg word nie omdat die kans op skuldigbevinding te klein is.
Baie kritiek, ook in dié ruimte, is daarop uitgespreek, onder meer omdat die argwaan ontstaan het dat Ngcuka nie die moed gehad het om 'n hoë politikus soos Zuma by te kom nie.
Wel, dit blyk dat Ngcuka en sy raadgewers dalk slimmer was as waarvoor 'n mens hulle destyds krediet gegee het.
Uiteraard sit dit nie in enige man se broek om die adjunkpresident van die land van korrupsie en bedrog aan te kla nie, veral nie as laasgenoemde so sterk in die regerende ANC staan soos Zuma nie. En dus is hy eers eenkant geparkeer en is Shaik aangekla, klaarblyklik in die wete (of hoop?) dat die getuienis teen Shaik terselfdertyd voldoende getuienis vir 'n aanklag teen Zuma sou voortbring.
Elke vinger wat dié week na Shaik gewys is, het immers verder na Zuma gewys.
En dus, as die hofsaak loop soos die Skerpioene kennelik verwag en Shaik skuldig bevind word, kan verwag word dat Zuma heel moontlik ook in die beskuldigdebank sal moet gaan staan.
Die kabinet het tot dusver die formeel korrekte standpunt ingeneem dat hy agter Zuma staan, aangesien dié nie aangekla is nie. Namate die hofsaak hom ontvou, is die vraag of dit ook 'n polities wyse standpunt sal wees.
Dit is nie die eerste keer dat beskuldigende vingers na 'n politikus in Suid-Afrika wys nie. Tot dusver het die ANC homself nie juis met eer oorlaai nie, want alle pogings om so 'n kwessie oop te vlek, alle probeerslae om die party tot openheid en deursigtigheid te beweeg, is met toesmeerdery begroet.
Die wapenskandaal self, die wyse waarop die parlementêre staande komitee oor openbare rekenings en regter Willem Heath se ondersoekeenheid tot stilswye gedwing is, laat 'n mens nie juis vertroue kry in die ANC se vermoë om te doen wat 'n oop en deursigtige demokrasie vereis nie.
Te midde van hierdie oplaaiende getuienis, gaan Zuma ongestoord met sy dagtaak voort.
Net vandeesweek het hy byvoorbeeld die eerste Desmond Tutu-vredeslesing in Kaapstad gelewer, 'n geleentheid wat hy gebruik het om te kla oor die gebrek aan moraliteit in die land. Nie dat 'n mens met die inhoud van sy boodskap wil verskil nie, maar watse morele gewig dra die boodskap terwyl daar sulke beskuldigings van immorele optrede teen hom gemaak word? Hoe kan hy met die gesag van sy amp praat as sulke verdoemende bewerings in 'n hof teen hom gedoen word?
Nougesette waaksaamheid oor openbare moraliteit is 'n wesenlike aspek van die demokrasie. En solank Zuma sy amp met dié wolk bo sy kop uitoefen, is dit sleg - sleg vir homself, vir die ANC, vir die regering en vir die land.
Hy sal spoedig oop kaarte met die publiek moet begin speel oor sy rol in die wapentransaksie en sy twyfelagtige sakeverhouding met Shaik.
Met erkenning aan Dawie en Die Burger.