Woordestryd Verwag as Shaik-Saak Hervat |
Publication | Die Burger |
Date |
2005-01-31 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban - Die bloedhond is terug. Mnr. Johan van der Walt, forensiese ouditeur van KPMG, sal vanoggend die staat se eerste getuie wees wanneer die verhoor van mnr. Schabir Shaik in die hooggeregshof hier hervat word.
Shaik, adj.pres. Jacob Zuma se finansiële raadgewer, staan tereg op twee aanklagte van korrupsie en een van bedrog.
Die verhoor begin ná 'n reses van sewe weke waartydens Shaik heelwat tyd in Kaapstad saam met sy regsverteenwoordigers, mnr. Reeves Parsee en adv. Francois van Zyl SC, deurgebring het.
Van der Walt, die staat se sleutelgetuie, het in November verlede jaar bykans 20 dae in die getuiebank deurgebring. Vanoggend sal adv. Billy Downer SC, die hoofaanklaer, hom terugroep om 'n aantal onsekerhede op te klaar.
Ná Van der Walt getuig drie senior ondersoekers van die Skerpioene wat belangrike rolle in die Shaik-saak gespeel het.
Die res van die staat se getuies is mnr. Sipho Zikode van die departement van handel en nywerheid, mnr. Vanan Pillay, 'n voormalige werknemer van dieselfde departement, en me. Zandile Ndhladhla, waarnemende voorsitter van die Jacob Zuma-onderwystrust.
Na alle waarskynlikheid sal 'n woordestryd tussen Van Zyl en Downer volg oor die toelaatbaarheid van 'n aantal dokumente waarop die staat beslag gelê het.
Van Zyl het laat blyk dat hy heftig beswaar gaan aanteken teen die toelating van die gekodeerde Franse faks as 'n bewysstuk.
'n Kopie van dié faks, wat daarop dui dat Shaik, Zuma en Thomson-CSF tot omkopery ingestem het, is deur me. Sue Delique, 'n voormalige sekretaresse van Thomson-CSF (Thint), aan die hof gegee. Delique beweer sy het die faks saam met haar geneem toe sy by Thomson bedank het.
Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.