Publication: Rapport
Issued:
Date: 2005-11-19
Reporter:
In
enige werkende demokrasie sou dit ondenkbaar wees dat mnr. Jacob Zuma nog
hoegenaamd 'n kandidaat vir die land se hoogste amp kan wees.
Sy
ondersteuners se hoogheilige argumente lui dat hy nog in geen hof skuldig bevind
is aan korrupsie en bedrog nie. En dat die bewerings dat hy 'n MIV-positiewe
familievriendin in sy huis verkrag het, is nog net dit:
bewerings.
Natuurlik moet die gereg sy loop neem, maar wat ook al
die uiteinde van die regsprosesse, Zuma se gestrompel van die een krisis na die
volgende die laaste paar jaar het hom vir altyd ongeskik gemaak om die nasie te
lei.
Regter Hilary Squires se beskrywing van die verhouding tussen Zuma
en die veroordeelde Schabir Shaik as "algemeen korrup" sal vir altyd aan Zuma
bly kleef en maak hom heeltemal ongeskik vir die presidentskap. So ook die
getuienis oor 'n man met die salaris van 'n adjunkpresident wat nie gebore in
staat is om sy eie finansiële sake te bestuur nie.
Nogtans benut hy op
siniese wyse elke ondeurdagte populistiese opwelling van steun vir hom, al skeur
dit sy party en benadeel dit die land.
En nou is daar lekkasies uit
klaarblyklik die hoogste kringe oor Zuma se beweerde verkragting van iemand vir
wie hy glo 'n tweede pa was.
Ná die eerste verwoede ontkennings van die
aanvanklike berigte deur die Zuma-kamp is daar nog geen stappe teen die betrokke
koerante gedoen nie. Zuma se luidrugtigste ondersteuners is skielik verbasend stil.
Die polisie se geheimsinnige swye moet tot 'n einde
kom. Die publiek verdien om die feite rakende die klag te weet. Maar
weens die vreemde hantering van die saak tot nou toe sal 'n vraagteken vir altyd
oor dié kwessie in die nasionale gemoed bly hang.
In die oë van sy
ondersteuners is Zuma 'n veteraan-politikus met 'n trotse reputasie as 'n
vryheidsvegter. Maar hy kort baie beslis een eienskap wat kritiek belangrik is
vir 'n staatshoof: goeie oordeel.
Met erkenning aan Rapport.