Publication: Die Burger Issued: Date: 2005-08-26 Reporter: Willem Jordaan Reporter:

Is Zuma Nou Alliansie se Eie Peter Marais?

 

Publication 

Die Burger

Date

2005-08-26

Reporter

Willem Jordaan

Web link

 

Wat het mnre. Jacob Zuma en Peter Marais gemeen?

As jy dié vraag 'n jaar of wat gelede gevra het, was die antwoord maklik - net mooi niks nie. Maar met die onlangse ontwikkelinge rondom Zuma spring die ooreenkomste tussen die onttroonde Wes-Kaapse politikus en die afgesette adjunkpresident in die oog.

In Marais se geval was hy die politieke katalisator wat 'n sluimerende konflik tussen die DP-kamp en die NNP-kamp in die DA wakker gemaak het. Nadat mnr. Tony Leon se DP-groep hom as burgemeester in die pad gesteek het, is dié konflik tussen die twee kampe in die ope gestoot. 'n Fase van politieke moddergooiery het gevolg en uiteindelik het die kettingreaksie wat rondom Marais se afdanking momentum gekry het, op die dramatiese skeuring van die DA uitgeloop.

Vir baie NNP-lede het die behandeling wat Marais by Leon en kie. gekry het, vinnig die simbool geword van al hul frustrasies en besware binne die DA, selfs vir diegene wat nie te mal oor Peter Marais was nie.

In hierdie opsig het Marais 'n nuttige politieke martelaar geword en dat die Marais-voorval deur die NNP-kamp gebruik is om bepaalde politieke doelwitte te bereik, is ook nie te betwyfel nie. In die nastreef van dié doelwitte is Marais dikwels uitgebeeld as 'n man van die mense - iemand sonder wie se gewildheid op grondvlak die DA eenvoudig nie sou kon voortgaan nie.

As jy nou aan 'n ander vermeende man van die mense dink - aan "JZ", soos hy in die mond van sy ondersteuners bekend staan - is die ooreenkomste nogal opvallend.

Ook sy afdanking het sluimerende konflik tussen die linkse populiste en Mbeki se sentristiese konstitusionaliste in die ope gestoot en daar is reeds die voortekens van 'n fase van politieke moddergooiery.

Soos Marais, het Zuma (en sy afdanking) vir baie ANC-, SAKP- en Cosatu-lede die simbool geword van al hul frustrasies en besware wat stelselmatig binne die regerende alliansie opgebou het. Vir diesulkes is Zuma nou, soos Marais destyds, 'n gerieflike figuur om vir politieke doeleindes aan te wend en word ook hy uitgebeeld as 'n leier met 'n breë magsbasis sonder wie die ANC nie kan voortgaan nie.

In Marais se geval was hy uiteindelik die katalisator wat tot die skeuring van die DA aanleiding gegee het. Die vraag kan nou tereg gevra word of die Zuma-geval 'n soortgelyke uitwerking in die regerende alliansie kan hê.

Maar voor die Marais-geval sonder meer gebruik word as paradigma vir die verstaan van die ontvouende drama rondom Zuma, moet 'n mens eers toegee dat daar naas die ooreenkomste wat hierbo bespreek is, ook talle belangrike verskille bestaan.

Die eerste en belangrikste hiervan is dat die Demokratiese Alliansie tot stand gekom het as kitshuwelik tussen partye waar die historiese en ideologiese fondament vir die eenwording eenvoudig van meet af aan te swak was om die verhouding ooit te laat slaag.

Hierteenoor het die regerende alliansie 'n betreklik sterk historiese en ideologiese band wat in die jare lange stryd teen apartheid gesmee is.

Nietemin sê die Marais-geval baie oor die potensieel vernietigende krag van emosies wat binne partye opgebou word rondom charismatiese figure soos Marais en Zuma. Dít in ag genome - en te midde van hardnekkige beleidsverskille tussen die alliansievennote - is Cosatu se waarskuwing dat die Zuma-kwessie kan aanleiding gee tot 'n versplintering van die regerende alliansie, dalk nie bloot 'n alarmistiese oordrywing nie.

As Cosatu se regstreekse steun aan Zuma en die besware oor sy behandeling ten doel het om momentum te gee aan die proses van verbrokkeling in die regerende alliansie, soos dit in die Marais-geval was, is Cosatu om verskeie redes besig met 'n gevaarlike speletjie. Dit is 'n spel met veel groter politieke risiko's as in die Marais-geval van 'n paar jaar gelede: Die linkse populiste se keuse van Zuma as hul nuwe vaandeldraer is 'n bedenklike een.

In die eerste plek het hy weinig agtergrond in die linkse politiek en vir baie ondersteuners is hy 'n simbool van verset teen Mbeki, eerder as iemand wat uit eie reg steun verdien.

In die tweede plek is sy gewildheid by Cosatu dus eerder te danke aan die feit dat hy die man was wat deur Mbeki aangestel is om landsake met die linkses te bespreek toe hy self nie lus was om dit te doen nie.

Sy regstreekse kontak met dié vakverbond en relatiewe toeganklikheid het sekerlik sy magsbasis hier versterk.

In die derde plek loop die linkse populiste die gevaar dat die meer legitieme politieke sake wat hulle wil bevorder - insluitend verskille met die regering se ekonomiese beleid - onberekenbare skade aangedoen kan word as Zuma skuldig bevind word.

Die SAKP en Cosatu verteenwoordig 'n beduidende magsbasis binne die regerende alliansie en die gevaar is dat die legitieme aspirasies van dié magsbasis saam met Zuma kan sneuwel.

Dít in ag genome is daar goeie redes vir Cosatu, die SAKP en die ANC se jeugliga om 'n slag goed te dink voordat hulle Zuma verder uitbou as die politieke martelaar vir die linkses se saak.

Willem Jordaan is die politieke beriggewer van Die Burger. Dié stuk is sy eie mening.

Met erkenning aan Willem Jordaan en Die Burger.