Publication: Beeld
Issued:
Date: 2005-11-19
Reporter: Adriaan Bassow
Reporter: Mandy Rossouw
Reporter:
Publication |
Beeld
|
Date |
2005-11-19 |
Reporter
|
Adriaan Basson, Mandy
Rossouw |
Web Link
|
www.news24.co.za
|
Verkragting-storm
woed om Zuma en Vigs aktivis
'n Verkragtingsklag word wel teen mnr.
Jacob Zuma ondersoek. Die saaknommer is 312/11/2005. En die klaagster is in dié
stadium nie van plan om die saak terug te trek nie.
Die klaagster, 'n
31-jarige MIV-positiewe vigsaktivis wat Zuma as 'n vaderfiguur beskou het, het op 4 November 'n klag van verkragting by die
Hillbrow-polisiekantoor aanhangig gemaak. Dis 'n dag nadat die verkragting na
bewering in Zuma se huis in Forest Town, Johannesburg, plaasgevind
het.
Nadat die eerste verkragtingsbewerings Sondag in die Sunday Times
gepubliseer is, het ondersteuners van Zuma die afgelope week gesê dit is deel
van 'n sameswering om te keer dat hy in 2009 die president van die land word.
Dieselfde word gesê van die bewerings van korrupsie waarvan Zuma aangekla word
en as gevolg waarvan hy as adjunkpresident afgedank is. Hy is nog die
adjunkpresident van die ANC.
Die party se hoogste liggaam, die nasionale
uitvoerende komitee (NUK), vergader die naweek in Johannesburg. Hoewel polities
onwaarskynlik, is dit vir die ANC moontlik om spoedig teen Zuma op te tree,
berig Jan-Jan Joubert. Die NUK het kragtens die ANC-grondwet die mag om enige
klag na die nasionale tugkomitee te verwys en sal, as hy wil, dit vandag nog kan
doen.
'n Polisielid by die Hillbrow-polisiekantoor het gister bevestig
dat die saak daar geopen is en nou deur die polisie se Johannesburgse eenheid
teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe (GKS) ondersoek
word.
Volgens 'n polisie-informant word die ondersoek teen Zuma gelei
deur supt. Peter Linda, bevelvoerder van dié GKS-eenheid wat bekendheid verwerf
het vir sy uitmuntende speurwerk in die ondersoek na Suid- Afrika se ergste
reeksverkragter tot nog toe, Fanwell Khumalo.
Linda wou dit nie gister
bevestig nie.
Na betroubaar verneem word, het Zuma se vermeende slagoffer
'n senu- instorting gehad nadat die verkragtingbewering in die media openbaar
gemaak is.
Sy is jare gelede ook verkrag en het só MIV/vigs
opgedoen.
Die vrou het volgens die betroubare informant in 'n stadium
oorweeg om die klag terug te trek, maar sy is deur mense na
aan haar aangemoedig om voort te gaan. Dit is vermoedelik hoekom sy
aanvanklik die verkragting teenoor die Sunday Independent ontken het en ook
ontken het dat sy 'n klag teen Zuma ingedien het.
Beeld se informant het
bevestig dat sy tans in polisiebeskerming is terwyl die ondersoek afgehandel
word.
Die beweerde slagoffer se ma was in Swaziland toe sy van die
voorval gehoor het. Sy het dadelik na Durban gevlieg van waar sy na Johannesburg
gereis het om glo haar dogter te adviseer om eerder die saak te laat
vaar.
Volgens die informant het dr. Zweli Mkhize, KwaZulu- Natalse LUR
vir finansies en Zuma-vertroueling, vir die ma se reis betaal. Mkhize se
woordvoerder het vroeër gesê hy "weet niks van die bewerings nie".
Die ma
kon haar dogter nie oorreed om die saak teen hul familievriend terug te trek nie
en is terug na haar huis in Durban.
Die klaagster was
deel van 'n groep jong vriende wat uitgewekenes was en sedert hul terugkeer na
Suid-Afrika gereeld saam met Zuma gekuier het. Hulle het hom as 'n
vaderfiguur beskou.
Volgens Beeld se inligting is die vrou nie tans in 'n
verhouding nie en het sy op aandrang van haar dokter, wat
haar ná die beweerde voorval ondersoek het, 'n klag teen Zuma
ingedien.
Mnr. Michael Hulley, Zuma se prokureur, was nie gister
vir kommentaar beskikbaar nie, maar het vandeesweek telkens ontken dat sy kliënt
die vrou verkrag het. Met erkenning aan Adriaan Basson, Mandy
Rossouw en Beeld.