Publication: Beeld Issued: Date: 2005-11-15 Reporter: Philip de Bruin Reporter: Reporter:

15 Jaar Tronkstraf Bly Voorlopig Shaik se Voorland

 

Publication 

Beeld

Date 2005-11-15

Reporter

Philip de Bruin

Web Link

www.news24.co.za

 

Die swaard van 15 jaar tronkstraf hang nog baie ferm oor die kop van Schabir Shaik

Die swaard van 15 jaar tronkstraf hang nog baie ferm oor die kop van Schabir Shaik.

Die appèlhof het gister opdrag gegee dat hy sy aansoek om verlof tot appèl teen dié tronkstraf op aanklag van 'n algemeen korrupte verhouding met mnr. Jacob Zuma eers mondelings in dié hof moet kom motiveer.

"Dit is belangrik dat die publiek nie onder die wanindruk gebring word dat mnr. Shaik nou verlof tot appèl gekry het nie. Dit is glad nié wat appèlregters L. Harms en D. Scott gister beveel het nie.

"Om die waarheid te sê, 'n mens kan maar hoogstens sê dat mnr. Shaik nog net die eerste, baie lae hekkie op sy pad na toestemming om teen sy skuldigbevinding aan algemene korrupsie (die eerste van drie klagtes waaraan hy in die hooggeregshof skuldig bevind is) en die vonnis van 15 jaar tronkstraf daarop, oorgesteek het.

"Nou lê daar nog twee hekkies voor - en dit is baie hoë hekkies. Hy moet nou die vyf appèlregters mondelings gaan oortuig dat hy hoegenaamd verlof tot appèl moet kry. Kom hy dié hekkie oor, wag die hoogste hekkie: om dieselfde regters te oortuig dat hy verkeerdelik skuldig bevind is deur regter Hillary Squires en dat sy skuldigbevinding en vonnis tersyde gestel moet word," verduidelik prof. Tom Coetzee, strafregkenner van die Universiteit van Noordwes se Potch-kampus.

Ingevolge Harms en Scott se bevel moet Shaik en van sy maatskappye hul mondelinge betoog in die aansoek om appèl op die alge mene korrupsieklag (en die vonnis van 15 jaar vir Shaik) mondelings betoog wanneer hy sy betoog lewer op die ander twee aanklagte waaraan Squires hom skuldig bevind het, maar beperkte verlof tot appèl toegestaan het.

Wat dié twee aanklagte betref (waarop Shaik onderskeidelik tot 4 en 15 jaar tronkstraf gevonnis is) het Harms en Scott die beperkte appèl wat Squires toegestaan het ten opsigte van net die skuldigbevindings verander in 'n volledige appèl sonder beperkings wat skuldigbevinding betref.

Harms en Scott het Shaik se aansoek verwerp om teen die vier jaar tronkstraf op die tweede aanklag appél aan te teken. In sy aansoek om op die derde aanklag se vonnis - ook 15 jaar - appèl aan te teken, moet hy ook eers die appèlregters mondelings gaan oortuig dat appèl toegestaan moet word.

Adv. William Downer, SC, die staatsadvokaat in Shaik se saak, het gistermiddag net bevestig dat hy die appèlhof se bevel gekry het. Hy wou geen verdere kommentaar lewer nie.

Mnr. Reeves Parsee, Shaik se prokureur, was gistermiddag in 'n dringende hofaansoek betrokke en het gesê hy kan nog nie kommentaar lewer nie.

Met erkenning aan Philip de Bruin en Beeld.



The truth be told, in Afrikaans.

Translations available at 500 000 kRand per year until dividends are paid.

100% surcharge for Afrikaans to French translation.