Publication: Beeld Date: 2005-10-04 Reporter: Reporter:

Yengeni

 

Publication 

Beeld

Date

2005-10-04

Web Link

www.news24.com

 

Niks minder nie as 'n openbare verklaring deur adv. Vusi Pikoli, nasionale vervolgingshoof, sal goed genoeg wees om die skreiende betoog van die staat (by monde van adv. Riegal du Toit) in die appčlgeding van Tony Yengeni te verduidelik.

'n Mens moes Du Toit se betoog twee keer lees om seker te maak dat jy rég lees. Daarin doen hy soos 'n wafferse advokaat vir die verdediging sy bes om regters Ferdi Preller en Eberhard Bertelsmann te oortuig om Yengeni se vonnis van vier jaar tronkstraf te versag tot 18 maande opgeskort.

Yengeni is aan 'n baie ernstige vorm van bedrog skuldig bevind. Hy het, volgens die handelshof in Pretoria waar hy skuldig bevind en gevonnis is, sy politieke magsposisie misbruik om homself te verryk en dit toe boonop verswyg.

Enige lid van die publiek, soos 'n maatskappydirekteur, wat dieselfde doen, sal (heeltemal tereg) vier jaar tronkstraf kry en niemand sal 'n woord daaroor rep nie. Maar Du Toit gaan só oorboord in sy poging om Yengeni uit die tronk (en natuurlik terug in die parlement) te kry, dat hy selfs na hom as 'n "gevalle engel" verwys.

Oor Yengeni as gevalle engel sal seker meningsverskil wees. Maar min mense kan verskil met Preller en Bertelsmann wat van Du Toit wou weet: "Is dit nie die funksie van die hof om die publiek teen misdadigers te beskerm nie?"

Juis.

Du Toit kon nie self die besluit geneem het om Yengeni uit die tronk uit te probeer praat nie. Hy moes só 'n opdrag gekry het. Die publiek moet weet wat aangaan. Pikoli móét verduidelik.

Met erkenning aan Beeld.