Suid-Afrika
sal sy volle samewerking gee aan ’n Duitse ondersoek na die omstrede
wapentransaksie as die Duitse owerheid só versoek rig.
Só het mnr. Alec
Erwin, minister van openbare ondernemings, gister by die Uniegebou in Pretoria
gesê. Erwin het volgehou dat al die groot kontrakte met die R30
miljard-transaksie bo verdenking is.
Sy kommentaar kom nadat Beeld gister
berig het pres. Thabo Mbeki se belangrike staatsbesoek aan Duitsland dié naweek
kan in ’n diplomatieke verleentheid ontaard nadat die Duitse vervolgingsgesag in
Düsseldorf aangekondig het hy ondersoek die beweerde betaling van R137 miljoen
se omkoopgeld aan Suid-Afrikaners deur Duitse maatskappye.
Die Duitse
fregatkonsortium (GFC) het die vloot se R6,87 miljard-kontrak vir vier nuwe
korvette gekry.
Adv. Vusi Pikoli, nasionale direkteur van openbare
vervolging, is gister deur die DA gevra om self die Duitse vervolgingsgesag te
kontak en presies uit te vind wat hulle ondersoek.
“Ons is vol vertroue
dat die groot kontrakte behoorlik bestuur is en ons kan etlike jare later sien
dat die ooreenkomste suksesvol (afgehandel) is,” het Erwin gesê.
Mnr. Mukoni Ratshitanga, Mbeki se woordvoerder, het ook gesê die
president en regering is baie tevrede met die wapentransaksie en hoe dit
verloop. *1
Ratshitanga wys daarop dat die gesamentlike
ondersoekspan, wat die transaksie ondersoek het, die regering van enige
oortredings kwytgeskeld het.
Intussen het mnr. Terry Crawford-Browne,
oud-bankbaas en voorsitter van die Suid-Afrikaanse weergawe van die drukgroep
Economists Allied for Arms Reduction (Ecaar), gister in
’n brief aan Business
Day geskryf sy vermoede is dat die Duitse ondersoek gaan oor “suksesgelde” wat
die Duitse konglomeraat ThyssenKrupp glo aan Futuristic Business Solutions (FBS)
betaal het. ThyssenKrupp is die hoofspeler in die GFC.
FBS is ’n
Suid-Afrikaanse bemagtigingsgroep wat verbind word met familielede van mnr. Joe
Modise, voormalige minister van verdediging, wat ten tye van die wapentransaksie
dié portefeulje beklee het.
FBS is ook een van African Defence Systems
(ADS), wat die R1,3 miljard-kontrak gekry het om gevegsuites vir die vier nuwe
korvette te voorsien, se aandeelhouers. ADS se ander vennoot is die Nkobi-groep,
waarvan Schabir Shaik die voormalige voorsitter was.
Bewerings dat
ThyssenKrupp R1,2 miljoen aan FBS betaal het om die Suid-Afrikaanse regering aan
sy kant te kry het vir die eerste keer in 2001 in die Mail & Guardian
verskyn.
Volgens Crawford-Browne het hy dokumente hieroor aan oudregter
Willem Heath oorhandig wat destyds die wapentransaksie ondersoek het.
FBS
kon gister ná talle pogings nie vir kommentaar bereik word nie.